Local sportSport

Groot rugby vir dié naweek op die kalender

Rugbyondersteuners van die Waterberg kan solank hul warm baadjies uithaal en die braaihout gereed kry vir die semifinale ronde van die Blou Bulle Waterberg-suidstreek wat dié naweek in Groblersdal en Northam gespeel word.

Die Kwaggas-, Rhino’s-, Nylstroom-, Loskop-, Mogol-, Vaalwater-, Naboomspruit- en Amandelbult-dorpsrugbyspanne het mekaar reeds in Maart gepak om plekke in die semifinale ronde te verseker.

Die topvierspanne wat sake moet uitspook, is die Kwaggas van Bela-Bela, die Rhino’s van Northam, Loskop-span van Groblersdal en die span van Mogol in Lephalale.

Die Rhino’s speel op Vrydag 3 Junie ’n tuiswedstryd teen die besoekers van Mogol-rugbyklub. Die wedstryd skop om 20:00 af.

Die Kwagga-span sal ook op 3 Junie kragte meet teen die Loskop-span op die Chris Wiid-stadion in Groblersdal. Die wedstryd begin om 19:00.

Pierre van Jaarsveld van Thabazimbi en die Rhino’s se afrigter het by navraag gesê die span is slaggereed.

“Ons eerste-, tweede- en derdespan neem tans aan die Carlton-liga deel. Ons is baie beïndruk met ons vierdespan se prestasie in die suidstreek-liga.”
Drummond Hammond van Bela-Bela en klubvoorsitter van die Kwagga’s het gesê dit is die eerste keer in 10 jaar dat die Kwaggas weer in die semifinale ronde van die Blou Bulle Waterberg-suidstreek speel.

“Die klub het dié liga laas in 2007 en toe tussen 2011 en 2012 gewen. Ons het die afgelope twee jaar van ’n sukkelende klub tot ’n wenklub gegroei.”

Die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) het intussen ’n brief aan alle klubs in die provinsie gerig oor ongerymdhede wat in die laaste paar weke op en van die veld af plaasgevind het.

Attie Buitendag, bestuurder van Limpopo-amateurrugby-unie, het aan die klubs geskryf die BBRU lê groot klem op goeie gedrag en welwillendheid van spelers, klubadministrateurs en toeskouers teenoor skeidsregters.

Buitendag het gesê die unie is gekant teen enige vorm van verbale- of fisieke aanvalle op skeidsregters wat spruit uit ontevredenheid met beslissings wat op die veld gemaak word. Volgens die skrywe was daar die afgelope klompie weke by herhaling voorvalle van wangedrag teenoor skeidsregters.

Voorts is ook gevra dat skeidsregters objektiewe en regverdige beslissings moet maak soos voorgeskryf deur die Suid-Afrikaanse Rugby-unie(SARU).

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button