Local sportSport

Nasionale bergfiets-wedren in die Waterberg gehou

Kranige bergfietsryers het behoorlik die klippe laat spat tydens die Suid-Afrikaanse Veldfietswedren (Cross Country) XCO-beker se derde wedren in die reeks.

Lilian Baber, ’n fietsryer van die Waterberg, het die tweede plek behaal in die groep vir meisies van 17-18 jaar tydens die XCO-veldfietswedren wat op Saterdag 30 April in Vaalwater gehou is.

Die wedren is op Saterdag 30 April deur Insect Science (Tzaneen) by die Summerplace-natuurreservaat buite Vaalwater aangebied.

Volgens die organiseerders het 120 fietsryers die wedloop voltooi uit die totale 137 inskrywings wat alle ouderdomme insluit. Die roete van 4,3 km (per rondte) is oor klipperige terrein uitgelê wat heelwat krag, stamina en vernuf van ryers vereis het. Ryers van elke ouderdomsgroep moes ’n sekere aantal rondtes voltooi om in aanmerking te kom.

The Bike Village-restaurant het gesorg dat die ryers en toeskouers heeldag kon smul aan lekker eetgoed. Na afloop van al die wedrenne kon almal weglê aan heerlike potjiekos terwyl Fritz Gunn musiek gemaak het.

Die elite-manswedren wat oor 30,1 km strek, was die hoogtepunt van die dag. Phillip Buys van Pretoria het gewys waartoe hy in staat is deur vroegtydig die voortou te neem. Buys, wat deur Euro Steel geborg word, het tot die sewende rondte voor gery en met ’n wentyd van 1:29:13 stof in sy opponente se oë geskop.

Dit was ’n taai stryd om die tweede plek toe Johan van Zyl (geborg deur Computer Mania) die huidige o.23-Afrika-kampioen, Arno du Toit (geborg deur Insect Science) die stryd aangesê het.

Du Toit het ongelukkig ’n pap wiel in die voorlaaste rondte gekry wat aan hom die derde plek besorg het in ’n tyd van 1:32:18.

Van Zyl is tans in topvorm en sal later vanjaar aan die wêreldbeker-veldren in Europa deelneem.

Die verwagte tweestryd by die elite-vrouewedren tussen Mariske Strauss, huidige Afrika-kampioen en Candice Lill, huidige Suid-Afrikaanse-kampioen, was nog ’n hoogtepunt op die dag. Lill se planne is gekortwiek toe sy ’n pap wiel ver van die tegniese ondersteuningspan gekry en dit ’n tydjie geneem het om weer aan die gang te kom. Sy moes diep delf in haar reserwekragte om die vermorste tyd in te haal en haar welverdiende tweede plek met ’n tyd van 1:37:28 te verseker. Strauss het die ses rondtes voltooi in ’n wentyd van 1:33:23.

Carla Jansen van Vuuren, ’n fietsryer van Vaalwater, het die eerste plek verwerf in die groep vir 15-16-jarige meisies. Sy het die vereiste drie rondtes in 00:55:28 kafgedraf.

Nog ’n Waterberg-inwoner, Lilian Baber, het ’n welverdiende tweede plek behaal in die 17-18-jaar groep vir meisies en haar wedren in 1:10:14 voltooi; slegs enkele minute agter Tyler Jackson, die huidige Afrika-kampioen in hierdie ouderdomsgroep, wat die vereiste vier rondtes in ’n wentyd van 1:04:50 afgelê het.

Twee fietsryers van Polokwane het ook goed presteer. Jana Kotze was derde in die meisies 13-14-jaar groep terwyl Ruan Janse van Vuuren vierde geëindig het in die seuns 17-18-jaar groep.

Volgens die organiseerders het die fietsryers en toeskouers hul besoek aan die Waterberg terdeë geniet.

Die vierde wedren in die reeks vind op Saterdag 4 Junie in Johannesburg plaas met die finale Suid-Afrikaanse kampioenskap wat op Saterdag 2 Julie in Bloemfontein gehou word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button