Local sportSport

Hoërskool Warmbad-rugbyspelers gekies om in Ierland te speel

Twee talentvolle rugbyspelers van Hoërskool Warmbad is steeds oorbluf nadat hulle uit 26 skole se spelers gekies is om September aan die Arthur Johnson-toernooi in Ierland deel te neem.

Die toernooi waartydens die seuns gekies is, is in Maart in Mosselbaai gehou. Die spelers het sewe dae lank hul beste spel gelewer om in aanmerking te kom.

Johanco Potgieter, agsteman en in matriek, en JJ Herbst, gr.11-leerder en losskakel, sê hulle is vooraf ingelig dat talentsoekers die toernooi in Mosselbaai sal bywoon. Dit het die senuwees maar laat knaag, maar toe hulle die eerste keer saam met die span op die veld draf, was dit net die spel wat saakgemaak het.

Albei spelers het nie onder die druk geswig nie en deurgaans goeie spel gelewer en punte vir hul span aangeteken.

“Ons het nou wel geen van ons wedstryde gewen nie, want die kompetisie was baie sterk. Ons name is ná ons tweede wedstryd tydens ’n oefenkliniek uitgeroep as deel van die 23 spelers wat na Ierland gaan toer. Ek was baie verbaas, want ek is nog nooit vir so iets gekies nie,” het Johanco gesê.

JJ het gesê hy was stomgeslaan.

Albei spelers en hul ouers is reeds hard aan die werk om geld in te samel om op die toer te gaan.

“Om ’n blik by ’n verkeerslig te skud om my droom te verwesenlik, is nie so erg nie. Selfs van die trok- en taxibestuurders glimlag en gooi vir ons ’n donasie in die blik,” het Johanco gesê.

JJ se ouers verkoop intussen tuisgebakte lekkernye en berei voor vir ’n Moedersdagete wat op Sondag 8 Mei by die NG Warmbad Wes-gemeente gehou sal word as fondsinsameling.
Hoewel die seuns se fondsinsameling fluks verloop, het hulle nog nie naastenby hul doelwit bereik nie.

Johanco wil hom ná skool as sjef bekwaam en JJ beplan ’n loopbaan in geologie. Dié manne sê hulle is bereid om baie hard te werk aan hul toekomsdrome.

Die spelers speel in September in Limerick en Cork in Ierland rugby.

Indien weldoeners ’n bydrae vir hulle wil maak, kan hulle vir Johanco bel by tel. 071 874 7645 of sy pa, Kobus, by tel. 083 654 4594.

Vir navrae oor JJ kan mense sy ma, Linda, bel by tel. 082 773 1399.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button