Local sportSport

Kaalvoet in die reën

Die eerste ronde van die Limpopo-landloopkampioenskap het die afgelope naweek in Thabazimbi plaasgevind.

Atlete van regoor die Waterberg-distrik het die prentjiemooi Bosveld-roete by Tarentaalpan aangedurf en volgens René Coetzee, verteenwoordiger van Limpopo-atletiek, was die eerste ligabyeenkoms in die reeks ’n groot sukses.

“Ons is regtig dankbaar oor die naweek se opkoms ten spyte van die reën,” het sy gesê. “Ons is nog besig om die finale syfers na te gaan en die uitslae te bevestig, maar tot dusver lyk dit asof byna 300 atlete deelgeneem het.”

Thabazimbi-landloopklub het vanjaar vir die eerste keer gasheer gespeel vir dié kampioenskap en volgens Liezel Blignaut, afrigter van die klub, is hulle baie trots op hoe hul atlete, asook die besoekers, die uitdagende weersomstandighede hanteer het.

“Ons atlete het regtig hard gewerk ter voorbereiding van die kampioenskap,” het sy trots vertel. “Dit was vir ons by die klub lekker om te sien hoe ons atlete se harde werk vrugte afgewerp het.” “Ons was baie gelukkig dat daar vanjaar geen ernstige beserings tydens die wedlope was nie. “Ons is dankbaar vir alle ouers, ondersteunders en borge wat die dag spesiaal gemaak het.”

Die Waterberg-atlete sal weer op Saterdag 11 Junie in Modimolle (by die Fitness for All Athletics-klub) kragte meet tydens die derde ligabyeenkoms van die kampioenskap.

Die atlete sal ook op Saterdag 13 Augustus aan die provinsiale kampioenskap by Laerskool Bosveld in Lephalale deelneem.

Rowe du Preez van Hoërskool Frikkie Meyer het deurgaans baie sterk gehardloop en die wedloop goed voltooi.
Markus van der Walt het Hoërskool Hans Strydom in Mookgophong by vanjaar se Limpopo-kampioenskap verteenwoordig.
Reghardt Reineke van Laerskool Thabazimbi het gesorg dat hy goed opgewarm is voor die aanvang van sy wedloop op Saterdag 9 April in Tarentaalpan digby Thabazimbi.
Aeden Anderson het al die pad uit Musina kom deelneem. Hy is deel van Hoërskool Merensky in Tzaneen se span.
Altus du Plessis hou Hoërskool Nylstroom se naam hoog tydens die wedloop wat by Tarentaalpan in die Thabazimbi-omgewing gehou is.
Lihanke Raath van Laerskool Thabazimbi het haar wedloop met gemak voltooi en was in die pylvak nog vars en vrolik.
Hildegard Snyman, een van die Mogol AC-atlete wat uit Lephalale is, het die wedloop voltooi en nog kans gesien om ander atlete by die wenpaal aan te moedig.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button