Local sportSport

‘Bikers’ in hordes verwag vir renostersaak

Die Bosveld gaan weergalm met die dreuning van kragtige ysterperde wanneer die Rhino Repro-motorfietsbyeenkoms einde April by die Zwartkloof-wildreservaat buite Bela-Bela gehou word.

Die saamtrek word beplan vir Saterdag 30 April. Die doel van die projek is om geld in te samel vir die bewaring van die krities bedreigde wit- en swartrenosterspesies.

Kundiges van die Rhino Repro-organisasie in die Waterberg-omgewing oes saadselle by van die renosterbulle om in geskikte renosterkoeie te plant. Dit kan die voortbestaan van die spesie ’n hupstoot gee.

Die organisasie het in Januarie 2020 die eerste renoster deur middel van ’n kunsmatige inseminasieproses bevrug. Die geskiedkundige geleentheid word beskou as baanbrekerswerk op die Afrika-kontinent.

’n Groot motorfietssaamtrek word vir Saterdag 30 April by die Zwartkloof-natuurreservaat buite Bela-Bela beplan. Die 1 500 motorfietsryers wat verwag word is betrokke by ’n fondsinsamelingsprojek vir die bewaring van die bedreigde wit- en swartrenosters in Afrika. Op die foto is die beplande roete wat die motorfietsryers sal gebruik tot by Zwartkloof.

Adele Smit, organiseerder en First Lady van die Warmbad Originals-motorfietsklub, het by navraag gesê hulle verwag minstens 1 500 motorfietse van plaaslike- en landwye motorfietsklubs by die saamtrek.

“Die hekke open reeds om 07:00 en besoekers word genooi om te deel in die dag se pret. Ons het ’n groot verskeidenheid stalletjies wat produkte en heerlike snoepe- rye sal verkoop. Sodra die motorfietsryers hul tente opgeslaan het, sal die groot kuier begin. Gelukkige trekkings sal elke uur gehou word teen R10 per inskrywing met ’n paar groot pryse op die spel,” het sy gesê.

Die Zwartkloof-bestuur het vir die geleentheid gratis tentstaanplekke beskikbaar gestel.

“Dit is eintlik bedoel vir die ryers wat van ver af reis, maar as enigiemand anders ook belangstel, kan hulle gerus van die vergunning gebruik maak. Afslag sal ook by die ander Zwartkloof-oornaggeriewe verskaf word vir die duur van die saamtrek.”

Verkeer in die dorp sal geraak word en die strate wat druk verkeer kan verwag, is die toevoerroetes na Zwartkloof-wildreservaat wat die R516-pad van Settlers, Potgieterstraat, Ritchieweg, Chris Hanistraat, asook die R516-pad na Thabazimbi insluit.

Die sanger Ryan Burnwood sal vir die vermaak sorg. Streng protokol sal gevolg word. Wangedrag sal nie geduld word nie.

“Ons wil graag in die toekoms meer van hierdie saamtrekke aanbied; dus moet ons sorg dat hierdie saamtrek sonder haakplekke verloop. Almal moet uitsien na die volgende byeenkoms.”

Vir navrae bel vir Adele of Thys Smit by tel. 079 430 4406 of tel. 081 522 7790.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button