Local sportSport

Dié skuts se pyle trek reguit in Thabazimbi

Lede van die Thabazimbi-boogskietklub het die afgelope naweek (19-21 Maart) gasheer gespeel vir skuts van regoor Suid-Afrika tydens die South African National Field Archery Championship (SANFAC) se boogskietkompetisie.

Die skuts wat van sover as die Wes-Kaap, Mpumalanga, Vrystaat en Gauteng gekom het, het kragte gemeet tydens ’n strawwe drie daelange uitdaging.

Die uitdagende baan, wat gedeeltelik in die berg gebou is, het gesorg vir groot pret onder die skuts en verskeie deelnemers kon dit regkry om nie-amptelike rekords op te stel.

Alle rekords wat die naweek verbeter is, word tans geverifieer en sal oor ’n maand (wanneer dié proses afgesluit word) amptelik bevestig kan word. Thabazimbi-boogskietklub het hul naam as een van die beste klubs in die land gestand gedoen met ystermanne en -vroue wat met ’n hele paar titels weggestap het.

Gary Bauer het goud gewen in die Veteran Male Freestyle Unlimited-klas en Gert Snyman was kort op sy hakke in die tweede plek. Die Freestyle-kategorieë behels ’n eenpen-visier wat elke afstand op die boog met ’n voorafgestelde glyskaal bepaal.

In die Bowhunter-kategorie skat skuts hul afstande met vyf pennetjies tot en met 72 m (oftewel 80 jaart soos daarna verwys word in boogskietterme). In die Bowhunter-klas het die manne koning gekraai met Hennie van Staden (’n veteraanskut uit Lephalale) wat goud behaal het en Werdie van Staden wat die silwer in die mansafdeling verower het.

Die klub se junior meisies het op hul beurt bewys dat boogskiet nie net ’n mannesport is nie en al drie het met ’n toekenning weggestap: Maya Broekhuizen het goud verwerf, Meagan Shamrock silwer en Shanel Furstenburg brons. JJ Matthee (Young Adult Male Bowhunter Unlimited) het silwer gewen.

Aart Broekhuizen en Mardus Ras het in hul kategorie (junior seuns) ook sterk gestaan en afsonderlik silwer en brons gewen.

Danie Matthee spog met ’n silwer medalje in die Welpie-afdeling en Mathilda Broekhuizen, een van Thabazimbi se Protea-skuts, het goud verwerf in die vroue-afdeling.

Bianca Coetzee het brons verwerf. Broekhuizen het vertel die naweek se kompetisie het soos gewoonlik vir baie pret gesorg en die gehalte skuts, asook die baan, sal nie sommer geëwenaar kan word nie.

Die skuts sal op Saterdag 9 en Sondag10 April terugkeer vir die ARFAC-voorbereiding, waar die Protea-skuts en federasiespanne op die Thabazimbi-baan oefen vir die African Regional Field Archers-kompetisie wat van Saterdag 30 April tot Maandag 2 Mei met deelnemers uit Namibië, Botswana en Zambië aangebied word.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button