Local sportSport

Hansies skop wintersport op hoë noot af

Hoërskool Hans Strijdom het die wintersportseisoen op Saterdag 5 Maart op hul tuisveld in Mookgophong afgeskop met wedstryde in rugby, netbal en hokkie teen Hoërskool Wonderboom van Pretoria.

“Ons spanne het baie goed gevaar teen ’n veel groter skool en ons is werklik opgewonde oor die seisoen wat voorlê,” het Rinus de Jager, hoof van die Hansies, na afloop van die dag se verrigtinge gesê.

“Hansie-netbal is ’n opwindende, mededingende sportsoort vir ons meisies. Ons speel tans in die A-liga met ligawedstryde teen die beste netbalskole. Elke speler kry die geleentheid om haar vaardighede en tegnieke te verbeter en om teen die beste op die netbalbaan mee te ding,” het Jani Meiring, netbalorganiseerder van die skool, gesê.

“Die Hansies het met elke wedstryd tot die einde bly veg. Dit is lekker om saam met gedrewe en hardwerkende leerders te werk.”

Die meisies het dit baie geniet om weer aan wedstryde deel te neem en die dag het in baie goeie gees plaasgevind.

“Hier by die Hansies gaan dit oor meer as net wen. Dit gaan oor ’n kultuur wat ons onder ons spelers skep. Ons streef daarna om karakter te bou en om talent te ontwikkel. Die netbalspelers het die naweek gewys wat dit verg om ’n ware en trotse Hansie te wees,” het Meiring gesê.

Die hokkiespelers het ook hul staal gewys. Tersia Lombard, organiseerder en afrigter, het aan Die Pos gesê die spelers het vanjaar ’n baie positiewe gesindheid.

“Daar lê nog baie harde werk voor, maar met hierdie gesindheid het ons vertroue dat die seisoen groot hoogtes sal bereik,” het Lombard gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button