Local sportSport

Bosveld Interhoër: Warrie-atlete maak skool trots by interhoër

Hoërskool Warmbad kan na afloop van die 58ste Bosveld Interhoër by Hoërskool Piet Potgieter met ’n tevrede glimlag terugkyk.

Warmbad het algeheel vierde in die opkoms en dirigente-afdeling geëindig, asook vierde tydens die toekenning van die prestasiebeker.

Om in aanmerking te kom vir dié trofee word elke skool se totale punte tydens die interhoërbyeenkoms teen hul aantal skoolleerders verwerk vir ’n finale punt.

Die Hansies het vanjaar die prestasiebeker gewen.

Frances de Jonge, o.19-atleet, het volgens Hoërskool Warmbad se rekords nog nooit ’n hekkie-item in haar hoërskoolloopbaan verloor nie. Sy het Saterdag tydens die Bosveld Interhoër weer die 100 m-hekkies en 400 m-hekkies vir meisies o.19 gewen. Foto: Herman Steyn

Die Warries was sesde in die sangkompetisie en het in die vyfde plek met die aflosse geëindig. Die Warries het algeheel sesde geëindig.

“Daar was goeie gees, samewerking en die vooraf-oefening het ons skool saamgebind” het Karen Vorster, waarnemende hoof, aan Die Pos gesê.

“Ons atlete het ongelooflike verbetering op die baan en in die velditems getoon. Ons sowat 100 sangers en 140 atlete het baie goeie dissipline gehad en dit maak ons baie trots.”

Die Warrie-atlete wat uitgesonder word vir hul prestasies sluit in: Lethabo Simango (800 m, 1 500 m en 3 000 m, Megan Prinsloo (100 m, 200 m en 400 m), Kaylee Brent-Meek (400 m, 100 m en 200 m, asook Adele Schoeman (400 m).

Nog topatlete was Adriaan Nagel (hoogspring), Pule Sebolao (400 m-hekkies, verspring en 110 m-hekkies) asook Mostafa Mokwena (hoogspring).

Lethabo Simango, ’n langasem van die Warries, het in die 800 m, 1 500 m en 3 000 m-items eerste geëindig. Foto: Herman Steyn

Die Warries is ook baie trots op Konradt Fourie (1 500 m en 800 m), Frances de Jonge (100 m-hekkies, 400 m-hekkieitems en verspring).

Hierdie topatleet het van gr.8-12 elke hekkie-item waaraan sy deelgeneem het, gewen.

Nog sterre uit die Warrie-stal is Boitshoko Moeng (hoogspring), Bianca van der Walt (800 m en 1 500 m), Mohammed Aphiri (200 m en 100 m), Kegomoditswe Monawa (200 m) en Dienkie Vorster (gewigstoot en skyfwerp).

Related Articles

Back to top button