Local sportSport

Bosveld Interhoër: Hansies bult hul spiere tydens vanjaar se Bosveld Interhoër

Die atlete, sangers, onderwysers, ouers en die hele gemeenskap van Mookgophong kon uit hul velle spring van vreugde toe Hoërskool Hans Strijdom op Saterdag 26 Februarie vir die eerste keer in 33 jaar hul buurskole geklop het en ’n algeheel tweede plek op die Bosveld Interhoër-atletiekbyeenkoms behaal het.

“Ons is baie dankbaar vir die byeenkoms wat vanjaar weer aangebied kon word en ons bars uit ons nate van trots oor die prestasies wat die Hansies behaal het. Dit het baie ure se harde oefening en deursettingsvermoë geverg om tot hier te kom,” het Lebu van Heerden, adjunkhoof van sport, aan Die Pos gesê.

Net Hoërskool Ellisras kon meer punte as die Hansies aanteken en het as algehele wenner uit die stryd getree.

Die Hansies het ook weer die gesogte prestasiebeker met 94,4% huis toe gebring.

Loura Potgieter (meisies o.17) van Hoërskool Hans Strijdom vlieg laag oor die hekkies by die Bosveld Interhoërbyeenkoms wat op Saterdag 26 Februarie in Mokopane gehou is. Foto: Herman Steyn

Die seunsspan het algeheel tweede geëindig en die meisies derde. Die Hansies het tien eersteplekke, 21 tweedeplekke, 27 derde-, 28 vierde-, 19 vyfde- en 18 sesdeplekke verower.

Janneman Benson is aangewys as die beste veldatleet van die dag met sy prestasie in die werpskyf vir seuns o.15.

“Ek en die skool is nederig dankbaar en baie opgewonde, want twee jaar gelede het ons die sesde plek behaal. Ons fokus het toe verskuif om ons algehele plek te verbeter en nie net om die prestasiebeker te wen nie. Ons tweede plek het al ons verwagtinge oortref en was beslis ’n groot verrassing,” het Rinus de Jager, hoof van Hoërskool Hans Strijdom, gesê.

Willie Conradie en Celia Erasmus, hoofdirigente van Hoërskool Hans Strijdom, in aksie tydens die Bosveld Interhoër. Foto: Herman Steyn
Die dirigente van Hoërskool Hans Strijdom het die skool aangemoedig om hul beste te lewer. Op die foto is Celia Erasmus, Willie Conradie, Leila Holtshauzen, Janu van der Merwe en Nikita Greyling. Foto: Herman Steyn

Hy het ook sy gelukwensing uitgespreek teenoor die wenners en het gesê dat ’n mens jou aan die beste moet meet.

Die Hansies waardeer al die ondersteuning uit die gemeenskap opreg.

De Jager is ook baie trots op die sangers en dirigente wat alles in die stryd gewerp het om die dag ’n reusesukses te maak.

Janco van der Walt en Yvette Swan ontvang die prestasiebeker van Coba Beyneveld, waarnemende hoof van Hoërskool Piet Potgieter. Die Hansies het hierdie gesogte trofee met 94,4% gewen. Foto: Herman Steyn

Related Articles

Back to top button