Local sportSport

Northam se Rhino’s het groot planne vir die jaar

Die Northam Rhino’s-rugbyklub is, ná ’n kort blaaskans, fluks aan die voorberei vir die 2022-rugbyseisoen.

Die Rhino’s het verlede jaar geskiedenis gemaak toe hulle deurgedring het tot die eindstryd van die Carlton-liga.

Hulle was die eerste span buite die Bloubul-rugby-unie wat die gesogte Lucas Strachan-skild kon lig.

Pierre van Jaarsveld, hoofafrigter van die klub, het aan Die Pos gesê hy is besonder trots op wat die span verlede jaar vermag het en dat hulle reeds hard werk om vanjaar nóg hoër hoogtes te bereik.

“Ons het vroeg ingespring en op Maandag 3 Januarie al met 60 spelers begin oefen,” het hy verduidelik.

“Ons is dankbaar dat al die spelers terug en gesond is en ons is ook verlig dat Bruce Muller, wat beseer was, sodanig herstel het dat hy weer volstoom kan saamoefen.”

“Ons sukkel om wedstryde so vroeg in die seisoen geskeduleer te kry. Dit is altyd goed om wedstryd-oefening te kry voordat die amptelike liga-kompetisie afskop,” het hy gesê.

“Ons sien baie uit na Saterdag 19 Februarie wanneer vier van ons spanne ons eerste weg-wedstryd teen die Raiders speel,” het Van Jaarsveld gesê.

Die Bushveld Ten’s-toernooi word vanjaar op 25 en 26 Februarie by Setaria (die Rhino’s se tuiste) aangebied.

Die Rhino’s is gereed om eersdaags kragte te meet teen die Pumas en ’n wedstryd is reeds geskeduleer vir Saterdag 5 Maart.

“Die jaar lyk baie belowend,” het hy afgesluit.

“Ons is in die proses om kontrakte met drie nuwe hoëprofielspelers te teken en hoop dat hulle teenwoordigheid die span baie sal versterk.

Rugbygeesdriftiges kan vanjaar ook uitsien na die eerste vrouespan wat vir die Rhino’s sal uitdraf. Daar is reeds 20 vroue wat oefen en wil deel uitmaak van die Rhino’s se wenkultuur.

Hierdie seisoen se groot uitdagings is die Rhino’s se deelname in die Waterberg-liga, die Carlton-liga en later vanjaar ook die Gold Cup-liga waar hulle met spanne van regoor Suid-Afrika sal meeding.

Die Rhino’s is oor Paasnaweek deel van ’n internasionale toernooi wat deur Harlequins-klub in Preroria aangebied word.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button