Local sportSport

Hansies hou weer Bokkesport

Die leerders, onderwysers en toeskouers van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong was baie opgewonde dat hulle vanjaar weer ’n volwaardige bokkesportbyeenkoms (huissport) kon aanbied.

Man en muis het opgedaag vir dié atletiekbyeenkoms op Vrydag 21 Januarie.

“Dit was ’n baie geslaagde byeenkoms en ons is trots op ons atlete. Die kinders oefen getrou en harde werk is beloon toe daar agt nuwe rekords opgestel is,” het Lebu van Heerden, adjunkhoof van sport, gesê.

Dit is veral die velditems wat gesorg het vir puik prestasies.

Yvette Swan het ’n rekord in werpskyf vir meisies o.19, wat reeds 42 gelede opgestel is, met ses meter verbeter.

Cara Louw het ook die meisies o.16-spiesgooirekord met ses meter verbeter en Janneman Benson het die rekord vir werpskyf (seuns o.15) met ’n allemintige 12 meter verbeter en ’n afstand van 54,71 m behaal.

Hierdie atlete het almal bestaande rekords van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong tydens die interhuisatletiekbyeenkoms op Vrydag 21 Januarie laat spat. Voor is Loura Potgieter (100 m hekkies vir meisies o.17) en Cara Louw (spiesgooi vir mei-
sies o.16). Agter staan Mario Opperman (300 m hekkies vir seuns o.14), George Lehlomela (driesprong vir seuns o.19), Pieter Harmse (diskus vir seuns o.16), Janneman Benson (diskus seuns o.15), Neville Barnard (110 m hekkies vir seuns o.17) en Yvette Swan (diskus vir meisies o.19).

In die item vir werpskyf (seuns o.16) het Pieter Harmse ook die rekord verbeter.

Twee baanrekords is verbeter met Loura Potgieter (meisies o.16) wat puik presteer het in die 100 m hekkies en Neville Barnard in die 110 m hekkies vir seuns o.17.

George Lehlomela het voorts die rekord in driesprong vir seuns o.17 verbeter.

Die Gemsbokke het die groot geraas (geesbeker) gewen en die Elande het die atletiekbyeenkoms gewen.

“Dankie aan elke leerder vir jul deelname en hulp. Ons sien met groot verwagting na 2022 uit,” het Van Heerden gesê.

Elandri van Staden is aangewys as die junior Victrix Ludorum en AJ Loots, wenner van die 400 m, 800 m en 1500 m (seuns o.15) as die junior Victor Ludorum.

Yvette Swan is die senior Victrix Ludorum en Neville Barnard, wat die 100 m, 200 m en 110 m hekkies vir seuns o.17 gewen het, is die senior Victor Ludorum.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button