Local sportSport

Gewilde Bosveld Interhoër is terug

Die 58ste Bosveld Interhoërbyeenkoms sal volgens beplanning waarskynlik op Saterdag 26 Februarie by Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane plaasvind.

Skole in die Bosveld-streek was in 2021 baie teleurgesteld toe dié byeenkoms weens die Covid-19-pandemie gekanselleer is.

Hoërskool Nylstroom was slaggereed om as gasheer op te tree vir skole in die Bosveld-bond.

Die byeenkoms in 2021 was geskeduleer om by Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal plaas te vind, maar weens die streng inperkings van 2020 het die skool nie genoeg tyd gehad om hul terrein gereed te kry nie en het die Bosveld-bondbestuur besluit om die byeenkoms weer by die Nylies te hou omdat 2020 se aanbieding so ’n groot sukses was.

Die huidige inperkingsmaatreëls, wat op Donderdag 30 Desember deur die departement van samewerkende regering aangekondig is, het die organiseerders weer hoopvol aan die werk gesit om vanjaar weer ’n byeenkoms aan te bied.

Daar mag tans 1 000 mense binnehuis byeenkoms en 2 000 by ’n buitelugbyeenkoms. Dit bring teweeg dat toeskouers weer by sportbyeenkomste toegelaat mag word, maar volgens riglyne in beperkte getalle. Indien die perseel nie die getal kan akkommodeer nie, mag die organiseerders slegs 50% van die perseel opvul.

“Ons krap nog kop oor of daar vanjaar sangers by die byeenkoms sal wees of nie. Ons moet die nuwe maatreëls ingedagte hou,” het Ruan Potgieter, atletiekorganiseerder by Hoërskool Piet Potgieter, aan Die Pos gesê. “In die verlede het ons 200 sangers per skool toegelaat. Daar is ook ’n sekere aantal kaartjies aan toeskouers per deelnemende skool beskikbaar gestel.”

Potgieter is egter hoopvol dat die byeenkoms sonder enige probleme sal verloop, al moet aanpassings gemaak word.

“Ons het nog ongeveer ’n maand oor om alles gereed te kry. Ons het gelukkig borge wat vroeër al aangedui het dat hulle betrokke wil wees en hul hulp dra by om die byeenkoms suksesvol te laat voortgaan. Ons moet net by die regering se regulasies hou.”

’n Hoofdevergadering is vandeesweek gehou om finale reëlings te tref oor deelnames. Die skole wat deel is van die Bosveld-bond is Hoërskole Ben Viljoen, Nylstroom, Warmbad, Ellisras, Piet Potgieter, Frikkie Meyer en Hans Strijdom.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button