Local sportSport

Bela-Bela se Kwaggas en Blou Bulle kuier gesellig saam

Die Kwagga-rugbyklub van Bela-Bela het op Vrydag 7 Januarie die jaar ordentlik afgeskop tydens ’n gesellige byeenkoms by Hoërskool Warmbad.

’n Paar eregaste van die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) — Attie Buitendach (Limpopo BBRU-bestuurder), Willem Strauss (BBRU-president), Henri van Aswegen (Limpopo BBRU-president) en Banna Botha (vise-president van Limpopo BBRU Suid-streek) het die geleentheid bygewoon.

Die besoekers het die gesogte Carling Curriebeker saamgebring wat die Bulle in 2021 verower het.

Die Kwagga-span en bestuur het die geleentheid gebruik om hulde en erkenning te bring aan Wynand Booysen (snr.), klubpresident en staatmaker, wat in 2021 onverwags aan Covid-19 oorlede is.

Die Kwagga-rugbyklub in Bela-Bela het hul nuwe wedstryddrag vir 2022 bekendgestel by ’n geselligheid by Hoërskool Warmbad. ’n Spesiale, getekende en geraamde trui is aan die Booysen-gesin geskenk as huldeblyk aan Wynand Booysen (snr.), vorige klubpresident, wat in 2021 aan Covid-19 gesterf het. Op die foto is JD Jansen van Vuuren, Ricardo Booysen, Larrie Erasmus, Dirk Booysen en Drummond Hammond (Kwagga-klubvoorsitter). Ricardo en Dirk het die trui namens hul gesin ontvang.

Booysen se bynaam, toe hy as jong man vir die destydse Warmbad-dorpspan uitgedraf het, was Kwagga. Dit was daarom vir die bestuur ’n eer om ongeveer twee jaar gelede die klub na hom te vernoem.

Booysen was ten tyde van sy dood vise-president van die BBRU se Waterberg-streek en word onthou vir die groot bydrae wat hy gelewer het tot die ontwikkeling en voortbestaan van rugby op skole- en klubvlak. Hy het sy liefde vir rugby by sy drie seuns, Wynand (jnr.), Dirk en Ricardo, aangewakker en ook by talle ander jong spelers van die Waterberg-omgewing.

Die Kwagga-spelers het by die geleentheid die klub se nuwe wedstryddrag bekendgestel en as huldeblyk almal een van dié truie onderteken en laat raam waarna dit aan die Booysen-gesin oorhandig is.

Drummond Hammond, klubvoorsitter, het tydens die geselligheid gesê die sosiale element en rugby moet nooit van mekaar geskei word nie. Hy is van mening dat dit kameraadskap en vriendskap bevorder en dat spanne as ’n eenheid moet optree en nie as individuele spelers nie.

Die Covid-19-pandemie het klubrugby in 2021 lelik in die wiele gery en verskeie liga’s is tot stilstand gedwing.

Die BBRU-bestuur het die geleentheid gebruik om weer hul steun aan die Kwagga-rugbyklub te verseker. Hoewel hulle nog nie die bepalings van die komende seisoen kon deurgee nie, is spelers verseker dat hoëvlakonderhandelings aan die gang is om rugby in 2022 weer te laat gedy.

Spelers sien met afwagting uit daarna dat hul gunstelingspanne weer op die veld kan draf met toeskouers om hul aan te moedig.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button