Local sportSport

Rolbalklub sluit jaar met borgdag af

Die Naboomspruit-rolbalklub in Mookgophong het op Saterdag 4 Desember hul jaarlikse borgdag aangebied wat elke jaar deur ’n groot slaghuis in die dorp geborg word.

Volgens Jan Barnard, president van die klub, het agt spanne deelgeneem waarvan een span besoekers van die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle was.

“Ons was bly dat hulle deelgeneem het, want sedert Covid-19 uitgebreek het, is klubs maar skepties om in ander dorpe deel te neem,” het Barnard aan Die Pos gesê.

Die wedstryde het om 08:30 begin en drie wedstryde is op die dag gespeel. Die wenspan het bestaan uit Andries Matshete, Piet Prinsloo, Anita Rossouw en Lydia Prinsloo.

Dié span was baie opgewonde en het geskenkbewyse van die slaghuis ontvang. Die span wat tweede geëindig het, het bestaan uit Koos Booyse, Johan Visagie, Ruta Roux en Martiens Lotz.

Matshete is vanjaar weer die klubkampioen. Hy het in Oktober 2018 vir die eerste keer in sy lewe rolbal gespeel. Matshete, wat die rolbalklub se perkehulp is, het vir die eerste keer die bal gerol nadat die klub ’n speler te min gehad het om te speel.

“Ek het sommer een middag vir Andries nader geroep en hom gevra om saam met ons te speel. Ek het hom so ’n bietjie touwys gemaak en net daar het hy die bal gevat en vir ons ’n ding of twee gewys. Hy het ’n natuurlike talent,” het Piet Prinsloo destyds aan Die Pos vertel.

Sedertdien is hy ’n volwaardige lid by die klub. Barnard is sedert middel 2020 die president van die klub en het sowat vier jaar gelede begin rolbal speel.

Hy woon die afgelope agt jaar by Die Oog Aftreelandgoed buite Mookgophong en was ’n apteker in Midrand, Johannesburg, voordat hy die stadsgewoel vir die Bosveld verruil het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button