Local sportSport

Pierre het planne vir die Rhino’s

Duisende Waterbergers het op Saterdag 30 Oktober ingeskakel om die naelbyt finale ronde van die Carlton-ligarugbywedstryd te kyk waar die Northam Rhino’s ná ’n geskiedkundige seisoen die knie in Pretoria moes buig teen die Naka Bulle.

Pierre van Jaarsveld, afrigter van die Rhino-span, het aan Die Pos gesê hy is baie trots op wat sy span deur die seisoen vermag het, ten spyte daarvan dat hulle nie die gesogte Carlton-beker kon lig nie.

“Ek dink ons was nog nie 100% reg vir hierdie finaal nie,” het hy verduidelik. “Baie van ons spelers is nog jonk en ons het nie baie ervaring op so ’n hoë vlak van kompetsie gehad nie. Ek is veral trots op ons sege teen die Tukkies-span in die semi-finale ronde. Ons was die eerste span in die geskiedenis wat dit kon regkry om hulle drie keer in een seisoen te klop.”

Van Jaarsveld was self in sy jong dae ’n kranige rugbyspeler en het in die 90’s vir die Leeus uitgedraf voordat ’n besering sy loopbaan as speler kortgeknip het.

Sy loopbaan as afrigter strek oor 20 jaar. Hy het in hierdie tyd die Union-rugbyklub in Johannesburg afgerig, was die skrumkonsultant vir die Goue Leeus se Super Rugby-span en een van die Suid-Afrikaanse Rugby Unie (SARU) se elite-afrigters vir die o.16-spanne.

Van Jaarsveld en sy gesin het in 2011 Thabazimbi toe verhuis en hy het dadelik sy kundigheid by die afrigting van Hoërskool Frikkie Meyer se eerstespan en die Northam Rhino’s aangewend. Hy skryf sy sukses toe aan die geleenthede wat hy in die lewe aangegryp het om hom te help ontwikkel.

Hy moedig ook spelers aan om die beste van hul loopbane te maak en elke geleentheid om te verbeter, aan te gryp.

Die Rhino’s het eers nou ’n kort blaaskans geneem waarna hulle op Vrydag 29 November weer hul rugbystewels sal vasmaak om vir die komende rugbyseisoen voor te berei.

Die Lucas Strachan-skildwenners sal aanstaande jaar deelneem aan die Heritage Cup (voorheen bekend as die Golden Cup-reeks) waar hulle teen 164 nasionale spanne sal meeding.

“Ons sien baie uit na die Heritage Cup-reeks omdat ons weer die geleentheid sal kry om teen spanne van regoor Suid-Afrika deel te neem,” het Van Jaarsveld gesê.

Die Rhino’s se uitstekende Carlton-liga-seisoen het ook vir hulle ’n plek bo aan die punteleer besorg wat beteken dat hulle eers nader aan die einde van die reeks by die kompetisie sal aansluit.

“Tydens dié reeks speel daar elke week twee spanne teen mekaar en die verloorder val uit. Omdat ons hoog op die punteleer is, sal ons dan eers teen Maart begin meeding wat ons behoorlik kans gee om ons spelpatrone agtermekaar te kry.”

Die Rhino’s het tydens die vorige reeks goed gevaar en eers in die halfeindstryd uitgeval.

Ondersteuners van vrouerugby het ook iets om na uit te sien aangesien die Northam Rhino’s vir die eerste keer ’n vrouespan sal hê.

Met ’n span talentvolle jong spelers en ’n afrigter wie se passie, deursettingsvermoë en kennis sy span tot hoë hoogtes gelei het, lyk die Northam Rhino’s se toekoms blink.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button