Local sportSport

Ruiters skop stof op

Die ruiters van Silver Saddles-perdryklub buite Mookgophong het die afgelope seisoen baie goed tydens verskillende byeenkomste presteer.

Die nasionale kampioenskap is van 3-6 Oktober in Parys, Vrystaat, gehou.

Die Silver Saddles-perdryklub is ’n multidissiplinêre klub wat nie net lede uit die Waterberg-streek het nie, maar ook uit die Capricorn-, Sekhukhune- en Mopani-omgewing.

Volgens René Pretorius van die klub het hulle tans 58 lede waarvan 25 mededingende- en 16 sosiale ruiters is. Die res is almal ondersteunende lede van ruitersport.

Die grootste dissipline wat in die klub verteenwoordig word, is die Western Mounted Games.

Die Suid-Afrikaanse Western Mounted Games bestaan uit ruiterkuns wat perdryvaardighede soos vatresie (barrel racing) en “pole bending” insluit. Dit is ’n sportsoort waaraan die hele familie kan deelneem.

Daar word jaarliks sewe kwalifiserende skoue gehou en ’n ruiter se kwalifiserende tye in 11 van die 13 onderafdelings word in ag geneem om te kwalifiseer vir die nasionale kampioenskap.

“Western Mounted Games is tans die vinnigste groeiende perdesportsoort in die land,” het Pretorius gesê.

Ruiters kan in die skolespan — Sanesa — of die ope-afdeling deelneem. In die ope-afdeling ding ruiters van alle ouderdomme teen mekaar mee.

Ruiters ding teen tyd mee en word daarvolgens in ’n kategorie of vlak geplaas. Volgens Pretorius was daar in 2021 net twee goedgekeurde bane vir die sport in Limpopo — Winnfield Stables se baan in Polokwane en Sanadors Equestrian Centre in Bela-Bela.

Ané Pretorius en Keegan Visser van die Silver Saddles-perdryklub het baie goed gevaar en is gekies om in die Elite-uitnodigingspan, wat Zimbabwe insluit, deel te neem.

Ané is ook gekies vir die South African Equestrian Federation (SAEF) se juniorspan (tot 14 jaar). Sy het vanjaar die Dream Big-trofee, wat ter nagedagtenis aan Jenna Kohlberg, ’n meisie wat ’n passie vir perdry gehad het en op 14 jarige ouderdom oorlede is, gewen.

Sanesa Limpopo Core League het reeds hul prysuitdeling gehou en die Silver Saddles-ruiters het daar uitstekend presteer.

Lyandi van der Merwe is aangewys as skouspringer van die jaar, Ruben Le Roux is die Equitation-ruiter van die jaar, Hanri de Beer is die Performance-ruiter van die jaar en ook die Victor Ludorum vir hoërskole.

Clara de Beer is aangewys as die gr. 12-rui- ter van die jaar.

“Ons is baie trots op elke ruiter se prestasies en sien uit na 2022. Ons nooi alle liefhebbers van perdesport om te kom deelneem,” het Pretorius gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button