Local sportSport

Potspel bly ’n gesellige sportsoort vir oud en jonk

Potspel (“pool”) is lankal nie meer ’n afskeepsport nie — die gewildheid van dié sportsoort neem inteendeel net toe en deesdae keer ernstige spelers boonop gereeld met ekstra geldjie in die sak terug huis toe ná ’n aand se spel.

Verskeie kuierplekke in Bela-Bela en Modimolle hou deesdae potspel-kompetisies om die beste spelers uit die onderskeie dorpe geleentheid te gee om “stokke” te kruis. Dit bied bemarkingsgeleenthede vir kuierplekke en boonop is daar altyd lekker pryse op die spel.

Volgens een van die organiseerders van dié sportsoort word daar tans gereeld kompetisies by die Jagkamp-kroeg en Mampoerboer Pub in Modimolle en Springbok Boma en De La Rey’s buite Bela-Bela plaas.

Die mededinging is tans net vriendskaplik, maar belangstelling word al hoe groter en daar is weekliks meer spelers wat opdaag.

Simon Mashangwane, een van die gereelde spelers van Modimolle, is besonder vaardig met die potspelstok en het op Sondag 24 Oktober skoonskip gemaak by Springbok Boma. Hy het die volgende dag ook al sy teenstanders by die Jagkamp-kroeg op die neus laat kyk.

Verskeie vriendskaplike potspelkompe-tisies word in bekende kuierplekke in Modimolle en Bela-Bela aangebied. Op die foto is MC van Zyl van Springbok Boma wat prysgeld aan Simon Mashang-wane, wenner van die plaaslike kompetisie, oorhandig.

Hy is op Woensdag 27 Oktober weer as wenner aangewys by ’n kompetisie by die Mampoerboer Pub in Modimolle.

Volgens Mashangwane is hy baie mededingend, maar neem hy in goeie sportmangees deel. Hy geniet die kompetisies baie, sê hy.

Jors Koch, ook van Modimolle, het op Maandag 1 November as wenner tydens die kompetisie by die Jagkamp-kroeg uitgetree.

Die huidige ranglys van die beste potspelspelers sluit in Mashangwane, David Marima, Koch, Pieter Bezuidenhout, Josh Williams, Jaco Simon, William Manamela en James Dibete.

Daar is weekliks meer as 20 spelers wat aan elke kompetisie deelneem.

Mense wat belangstel om hul potspel-vaardighede teen van die beste plaaslike spelers op die proef te stel, kan gerus die onderskeie adverteerders op dié bladsy in Die Pos ondersteun.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button