Local sportSport

Rhino’s wil die rekordboeke herskryf

Die Northam Rhino’s is slaggereed om geskiedenis te maak wanneer hulle op Saterdag 30 Oktober teen die ABE Midas Naka Bulle in die eindstryd van vanjaar se Carlton-liga uitdraf.

Die Rhino’s het reeds die rugbykringe aan die gons ná hul 28-14-sege oor die span van die Universiteit van Pretoria (Tuks) op Saterdag 23 Oktober toe hulle vir die eerste keer in die klub se bestaan deurgedring het na die finale ronde van die liga.

Die Rhino’s het drie keer in een seisoen die gedugte span van Tuks laat les opsê. Volgens Pierre van Jaarsveld, afrigter, is die Tuks-span baie sterk en vaar gewoonlik baie goed in ligawedstryde.

Die eindstryd vind op Saterdag 30 Oktober by die Loftus Versveld-stadion in Pretoria plaas.

Dit is vir albei spanne ’n geskiedkundige gebeurtenis, want hulle het nog nie in die eindstryd van die Carlton-liga gespeel nie en dit sal vir albei spanne ’n merkwaardige prestasie wees om die Carlton-beker Saterdag omhoog te hou.

As die Rhino’s die wenspan is, sal dit ook die eerste keer wees dat ’n span wat nié deel van die Bloubul Rugby-unie is nie, dié titel verower.

Die Rhino’s-bestuur het intusen ook hul tweede- en derdespanne gelukgewens met hul spel die afgelope seisoen. Albei spanne het ’n uitstekende seisoen gehad, maar het verlede week teen hul opponente vasgeval en nie die finaal gehaal nie.

Van Jaarsveld het gesê hy is baie trots op wat die spanne vanjaar kon vermag en dat hy opgewonde is oor Saterdag se wedstryd in Pretoria.

“Ons is almal baie trots op die manne. Hulle het die hele seisoen baie goed gespeel. Ons was die eerste span in 40 jaar wat dit kon regkry om die Tukkies-span te klop. Dit was reeds ’n reuseprestasie,” het hy gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button