Local sportSport

Oor die wenstreep…

Die Pos se gereelde bydrae tot sport in en om die Waterberg.

Willem Kamogelo (17) het ’n tweede plek in die 30 km-afstand behaal tydens die Top of the Waterberg-grondpadbergfietswedren wat op Saterdag 16 Oktober buite Vaalwater plaasgevind het. Die kwik het op dié dag tot meer as 40 °C gestyg, maar dit het nie vir Willem van stryk gebring nie. Hy het aan Die Pos vertel dat hy daarvan droom om eendag ’n professionele bergfietsryer te wees. Hy oefen daagliks en lê weekliks ongeveer 100 km op sy fiets af. Sy bergfiets is in 2020 deur ’n weldoener van Kaapstad geskenk. Op die foto is Willem (links) saam met sy skoolvriend, Messege Langa (16), wat ook aan die wedren deelgeneem het. Hulle is albei gr.10-leerders aan die Meetsetshehla Secondary School in die Leseding-township in Vaalwater.
Die Olifant-perderit word op Saterdag 6 November by die pragtige Diamant-wildplaas buite Mookgophong aangebied. Die perderit val saam met ’n heerlike dag vol vermaak vir die hele gesin wat by die Olifant-restaurant- en karavaanpark gehou word. Daar is verskeie stalletjies en ook ’n biertuin. Perderuiters kom om 10:00 by die karavaanpark bymekaar en sal om 13:00 opsaal om stiptelik om 14:00 te vertrek. Die perderuiters sal deur ’n noodvoertuig vergesel word. Die prysuitdeling vind om 17:00 by die biertuin plaas waar kunstenaars ook sal optree. Inskrywings is gratis. ’n Donasie word gevra ten bate van die Lewensvreug Tehuis vir Bejaardes in Mookgophong. Oornaggeriewe is vir perde beskikbaar. Navrae kan gerig word by Johann van Heerden by tel. 072 054 9663. Op die foto is Mighael en Janthus Muller op hul perde Ramon en Phakwe wat die perderit gaan meemaak.
Krieketafrigters en -spelers se kennis is tydens ’n krieketkliniek op Saterdag 23 Oktober by Laerskool Nylstroom verbreed. Theo van Heese en Christoff de Beer van TC Cricket Specialists in Pretoria was die aanbieders. Op die foto sit Christoff de Beer (krieketspesialis), Johan Bosch, Karel van der Walt en Theo van Heese (krieketspesialis). In die middel is FC Alcock, Dirk Nortman, Driaan du Plessis en Ruben Viljoen. Heel agter is Jurgens Viljoen, Roelf Vorster (skoolhoof), Peet Snyman, Tiaan Bestbier (afrigter), Raynard Janse van Rensburg (afrigter) en Jacques Swart (afrigter).
Atlete van die Euphorbiaskool in Mookgophong het op Saterdag 16 Oktober aan die Elardus Erasmus-atletiekbyeenkoms by Hoërskool Hans Strijdom deelgeneem. Daar was 16 deelnemende skole van Gauteng en Limpopo. Euphorbia het puik presteer en sewende in dié uitgelese kompetisie geëindig. Op die foto is die atlete wat hul baie goed van hul taak gekwyt het: Le Roux Brits, Elouise Pretorius, Le Roux Hancock, Mieke Botma, Rudi Fourie en Divan de Bruin. In die middel is Robert Abrahamse, Mia Botha, Clarissa Fourie, Nikla Janse van Vuuren, Renier Pieterse en Lize Janse van Vuuren. Agter is Jurgens van Aswegen, Waldo Hoffmann, Ludolf Pretorius, Chané Loots, Misha Abrahamse en Wihann Schalekamp.
Dié swemmers van Laerskool Warmbad het op Donderdag 14 Oktober hul beste tydens die skool se swemgala gelewer. Op die foto is Theron Brand (skoolhoof), Lucas Janse van Nieuwenhuizen (junior Victor Ludorum), Anneke Pieterse (junior Victrix Ludorum), Buhle Tshabalala (senior Victor Ludorum) en Adele Schoeman (senior Victrix Ludorum).
Raynard van Niekerk en Amelia Louw, gimnaste van die Kruiskrag-gimnastiekklub in Bela-Bela, het vroeg vandeesmaand puik uitslae behaal tydens Gimnastiek Suid-Afrika se Gimnasium-spele wat by die Matsportsentrum, die Hartfelt-arena en die Jonibach-sportsentrum in Gauteng gehou is. Raynard het die rekstok-afdeling gewen, was vierde in sy brug-item en het sewende in die vloer-kategorie geëindig. Amelia het algeheel tiende in spronge en 15de in die balk-afdeling geëindig.
Die Ecarté-gimnastiekklub se tuimelaars het talle medaljes ingepalm tydens die Twisters Cup-kampioenskap in Benoni op Saterdag 2 Oktober. Op die foto is die medaljewenners. Voor is Lané Steenkamp (silwer), Isabella Swart (twee silwer en ’n goud) en Marloné Kleynhans (twee goud en ’n brons). In die middel staan Juan Botes (twee goud) en agter hom Zúret Gilliland (een goud en een silwer), Cornel Scheepers (silwer) en Jenna Lee Schutte (twee goud). Op die inlasfoto is Anri Briel (twee goud en een brons). Dié gimnaste word in Modimolle afgerig deur Marinda Coetzer en Sibbie Swart.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button