Local sportSport

Lyndansers steel die kollig by Die Oog se mini-fees

Die dansers van Die Oog-aftreelandgoed buite Mookgophong se Loslit-lyndansgroep het nie net die trofee vir die beste stalletjie tydens Die Oog se mini-fees verower nie, maar ook die kollig gesteel.

Die groep lyndansers staan onder leiding van Janet Roets en Hanria Oosthuizen. Volgens Roets is die lyndansers tans die grootste groepaktiwiteit by dié aftree-landgoed.

“Toe ons drie jaar gelede begin het, was daar 7-12 aktiewe lede, maar ons het só gegroei dat ons nou ongeveer 100 aktiewe lede het,” het sy trots vertel.

Die Loslit-lyndansers bestaan uit vier verskillende groepe wat wissel van die heel beginners wat baie stadige danse doen, tot die “Golden Oldies”, die Loslitters en laastens die “Extremers” wat weet hoe om die voete te wikkel.

Sy het gesê die groepe wissel tussen 20-30 dansers, maar die gevorderde groepe is kleiner. Daar word vier klasse per week van 45 minute aangebied. Die oudste danser is 83 jaar oud.

Roets kon nie uitgepraat raak oor die goeie gees en kameraderie wat daar tussen hulle heers nie. Hulle hou ook drie keer per jaar ’n tema-aand en dan word daar behoorlik opgetof om die tema uit te beeld.

“Met sulke geleenthede motiveer ons die mense wat by die huis sit om uit te kom, betrokke te raak en die aand te geniet,” het sy gesê.

Roets kom van Gauteng en was 22 jaar lank by John Deere betrokke waar sy onder meer as projekbestuurder gewerk het. Haar man is 15 jaar gelede oorlede en daarna het sy haar werk bedank en ’n sentrum vir getraumatiseerde mense begin.

Sy het lyndans begin beoefen en haar passie op dié manier uitgeleef. Roets woon al byna vier jaar by Die Oog en is ook ’n kranige gholfspeler.

“Ek hou van ’n aktiewe aftrede en hier kan ek dit uitleef,” het sy opgewonde vertel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button