Local sportSport

Northam Rhino’s gaffel Tuks-span

Die Northam Rhino’s het op Saterdag 9 Oktober nog ’n tree nader gegee aan Carlton-ligaglorie toe hulle met die Universiteit van Pretoria (Tukkies) se span afgereken het.

Die Varsity Cup-kampioene het ’n verbete stryd gestry, maar moes uiteindelik die aftog blaas met ’n eindtelling van 27-21.

Pierre van Jaarsveld, hoofafrigter van die Rhino’s, het aan Die Pos gesê sy span moes hard voorberei vir hierdie wedstryd teen die gedugte Tukkies-span.

“Om teen enige universiteitspan te speel is altyd moeilik, want hulle is jonk en fiks,” het hy verduidelik.

“Die Northam Rhino’s het vroeg in die eerste ronde van die Carlton-liga wel teen Tukkies gespeel en hulle met oortuiging gewen, maar ons het geweet dit sou nie maklik wees om dit weer reg te kry nie.”

Die wedstryd het teen ’n baie hoë tempo afgeskop. Dit was duidelik dat albei spanne so gou as moontlik punte wou aanteken. Dit was die Rhino’s wat vinnig hul eerste drie onder die pale gedruk het.

Die Rhino’s moes vir 82 minute hard veg om die wedstryd in hul guns te swaai en hul volgehoue, ondeurdringbare verdediging het hulle met die louere laat wegstap.

“Elke speler het sy kant gebring en die span was beslis honger om te wen,” het Van Jaarsveld gesê.

“As afrigter is ek ongelooflik trots op die span wat net nooit opgee nie en aanhou baklei tot die eindfluitjie blaas.”

Saterdag se wenplek verseker dan ook vir die span ’n tuis-semifinaal wanneer hulle eerskomende Saterdag (16 Oktober) teen die span van Pretoria Tuine kragte meet.

Die verligting van Covid-19 maatreëls beteken ook dat toeskouers nou by wedstryde verwelkom kan word.

Die span sien daarna uit om hul ondersteuners Saterdag langs die veld te sien en hoor.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button