Local sportSport

Marli is Laerskool Koedoeskop se skaakkoningin

Met ’n wit en swart bord vol skaakstukke is Marli Fourie (12), ’n gr. 6-leerder van Laerskool Koedoeskop, absoluut op haar gemak.

Hierdie kranige skaakspeler is begin September vanjaar gekies om Suid-Afrika van 17-26 September by die 2021 African Youth Chess Championship (AYCC) in Accra, Ghana, te verteenwoordig.

Sy is een van slegs vier Suid-Afrikaanse spelers wat in haar ouderdomsgroep sal deelneem. Gideon Van Dyk, onderwyser en afrigter by Laerskool Koedoeskop, het aan Die Pos gesê hulle is opgewonde om te sien wat Marli vanjaar by die kompetisie vermag.

“Dit is nie enige Jan Rap en sy maat wat aan dié kompetisie deelneem nie,” het hy verduidelik. “Slegs ’n handjievol uitgesoekte spelers van regoor die land word genooi. Ons is baie trots op haar.”

Marli het reeds vroeg in haar skoolloopbaan haar skaakspiere gebult. In 2017, toe sy agt jaar oud was, het Marli haar skool by die Suid-Afrikaanse C-liga skaakkampioenskap verteenwoordig waar sy ’n goue medalje verower het en sedertdien het sy van krag tot krag gegaan in dié sportsoort.

Daar steek egter baie meer in Marli as net skaakkampioen. Sy het al verskeie pryse ingepalm vir kreatiewe skryfwerk, maar sy sê self sy is op haar gelukkigste as sy agter ’n skaakbord inskuif.

Marli se ma, Lizmari, het haar na Ghana vergesel. Haar familie, vriende en almal by Laerskool Koedoeskop sien uit om haar eersdaags in Suid-Afrika te verwelkom en vertrou dat sy ’n nasionale titel agter haar naam kan skryf.

“Ons almal by die skool hou styf duime vas vir haar en ons hoop sy gaan sommer gou al haar opponente in skaakmat hê. Julle moet darem ’n blaaskansie ook neem tussen al die konsentrasie en die vreemde land gaan verken. Bring die beker huis toe,” het Van Dyk afgesluit.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button