Local sportSport

Benhard blink oorsee uit

As ’n mens Benhard Janse van Rensburg se naam in Thabazimbi noem, weet almal van wie jy praat.

Hy het die afgelope paar jaar bekend geword as veelsydige rugbyspeler.

Die jong man het homself onderskei as heelagter, losskakel of senter en Janse van Rensburg is vandag ’n gewilde keuse vir Suid-Afrikaanse rugbyafrigters en keurders omdat hy so veelsydig is.

Dié jong speler het onlangs besluit om sy vlerke te sprei en aan te sluit by die Londen Irish-klubspan in Engeland.

Die 24-jarige inwoner van Thabazimbi het op skool reeds opspraak gemaak as een van Hoërskool Frikkie Meyer se beste spelers en hy is op meriete gekies vir die Limpopo Blou Bulle se jeugspan, maar dit is eers toe hy sy buiging vir die Vrystaat Cheetahs gemaak het, dat Janse Van Rensburg werklik sy stempel afgedruk het as een van die land se mees talentvolle jong spelers.

Hy het ná skool by die Luiperds se o.19-span aangesluit en kort voor lank het hy die Noordwes-Universiteit (Pukke) in die 2016 Varsity-beker verteenwoordig. Van Rensburg het in dieselfde jaar ook sy buiging vir die Haaie in die Curriebeker-toernooi gemaak en is die volgende jaar aangewys as deel van die Haaie se Superrugby-span waar hy sy debuut teen die Southern Kings gemaak het.

As boorling van Pretoria het hy grootgeword in ’n sportmal huis met albei sy ouers wat kranige atlete is en sy jonger broer, HJ, wat self naam maak as een van hul Alma Mater se mees belowende rugbyspelers.

Janse van Rensburg het sedert 2018 vir die Vrystaat Cheetahs uitgedraf tot hy in Junie vanjaar by die Londen-span aangesluit het.

Sy passie vir die spel en ongelooflike deursettingsvermoë het vroeg reeds gesorg dat hy alombekend geword het in Suid-Afrikaanse rugby en daar is geen twyfel dat dié jong speler nog diep spore in wêreldrugby gaan trap nie. Hy is beslis ’n speler om dop te hou!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button