Local sportSport

Northam Rhino’s maak geskiedenis

Die Northam Rhino’s-rugbyklub het die afgelope paar weke rugby-aanhangers in Thabazimbi se harte warm laat klop met hul puik spel tydens die Carlton-liga.

Die span het die afgelope naweek bewys dat die Rhino’s ’n gedugte span is wat deur groot klubs onderskat is toe hulle as oorwinnaars van die gesogte Lucas Strachan-skild weggestap het.

Die Rhino’s het sedert die eerste ronde van die Carlton-liga die eerste week in Augustus verbete geveg om bo-aan die punteleer te kom.

Pierre van Jaarsveld, afrigter van die Rhino’s-rugbyklub in Northam, hou trots die gesogte Lucas Strachan-skild omhoog ná sy span se puik vertoning.

Hulle het stof in hul teenstanders se oë geskop en uiteindelik die eerste span, wat nie deel uitmaak van die Blou Bul Rugby-unie (BBRU) nie, geword om dié gesogte trofee te verower.

Hulle was onstuitbaar ná hul sege van 34-33 oor die Universiteit van Pretoria (Tukkies) se span het ook die Harlequins-span van Pretoria met 31-12 getroef.

Die Rhino’s het uiteindelik die eerste ronde van die Carlton-liga afgesluit met ’n weghol-wentelling van 77-8 teen die Tuine-Grizzlies.


Pierre van Jaarsveld, hoofafrigter, het vroeg in die seisoen al sy span aan Die Pos beskryf as ’n klein klub, maar een met ’n groot hart.

“Die Rhino’s is almal ’n klomp ouens wat voltyds by die myn werk en ekstra ure insit om te oefen en wedstryde te speel. Juis daarom is ons baie trots daarop om een van die beste klubs in Limpopo te wees.”

Die tweede ronde van die Carlton-liga begin op Saterdag 28 Augustus wanneer die Rhino’s gasheer speel vir die span van die Centurion-rugbyklub.
’n Paar hoogtepunte van die Rhino’s se seisoen sluit in:

  • Northam is die eerste klub buite Pretoria (die Blou Bul Rugby Unie) wat sedert 1973 die Lucas Strachan-skild gewen het.
  • Die Rhino’s was die enigste span wat tot dusver onoorwonne is.
  • Die 12 drieë wat hulle teen Tuine-Grizzlies gedruk het, was die meeste deur enige span in die eerste ronde van die Carlton-liga. Hulle het ook die beste ge-
    middelde telling (34-14) behaal.
  • Die groot punteverskil tussen die Rhino’s en die Grizzlies (69 punte) was die grootste gaping van enige ander wedstryd.
  • Danie Loots het die meeste punte vir ’n enkele speler (61 punte) aangeteken.
  • Patrick Hattingh, kaptein, het die meeste drieë (8) van die seisoen gedruk.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button