Local sportSport

Hansies maak ’n plan om pandemie te troef

Skole word steeds deur die Covid-19-pandemie se regulasies geknou en juis daarom het Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong ’n slim plan bedink om hul skoolfonds ’n hupstoot te gee.

Volgens Rudolph de Vos, bemarker van die skool, beplan hy al maande lank aan ’n langafstand-ghongskietkompetisie wat op Saterdag 11 September op Sable Valley, die plaas van Johan Klopper, in die omgewing sal plaasvind.

Die baan bestaan uit vyf skietpunte wat vyf ghongs per skietpunt het en die afstande wissel van 290 m tot 750 m.

“By twee van die skietpunte is daar 1 000 m ghongs om die baan meer uitdagend vir die skuts te maak,” het De Vos gesê.

Die skuts sal vier per span deelneem en het twee minute per skut om die vyf ghongs raak te skiet. Elke skut se tyd word gehou om teen die einde ’n algehele punt te verkry.

Die kompetisie begin reeds 07:00 wanneer al die deelnemers byeenkom waarna hulle die wapens kan instel.

Die skietkompetisie begin om 09:00 en sal om 16:00 eindig. Daar heers reeds groot opgewondenheid oor dié unieke fondsinsamelingsprojek en skuts van heinde en ver het reeds ingeskryf. Die koste beloop R2 000 per span. Inskrywings sluit op Dinsdag 31 Augustus.

Vir navrae bel vir Rudolph de Vos by tel. 083 453 9593.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button