Local sportSport

Krieketspan maak skoonskip

Die inperking weens die Covid-19-pandemie het ook sy tol in skolesport geëis.

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong se krieketspelers was juis daarom baie opgewonde om op Saterdag 14 Augustus die geleentheid te kry om in ’n krieketwedstryd teen Hoërskool Warmbad kragte te meet.

Die wedstryd is op die Warries se krieketveld gespeel. Die o.15-span van die Hansies het die loot gewen en besluit om eerste te kolf en 431 vir sewe paaltjies aangeteken.

Volgens Lebu van Heerden, sporthoof van Hoërskool Hans Strijdom, is dit ’n indrukwekkende telling en behoort dit in die Hansies se rekordboeke aangeteken te word.

Janco Abrahamse het 168 lopies van slegs 108 balle geslaan en Zian Smith het 60 lopies vir die span aangeteken tydens die 50 boulbeurte.

Die span se afrigters, Juan Kotze (onderwyser) en Marius van den Berg (faktotum) is in hul noppies met die span se vertoning so vroeg in die seisoen en sien uit na die volgende wedstryd teen Hoërskool Nylstroom.

Met die Warries se beurt om te kolf het die Hansies se boulaanval die Warries behoorlik laat steier. Hulle het slegs 51 lopies aangeteken.

Die Hansies se boulers wat gemaai het onder die teenstaanders, was Pieter (Koedoe) Harmse wat sewe paaltjies laat kantel het en Kyle Fourie wat nog drie Warries laat terugstap het kleedkamer toe.

Die Hansies het die wedstryd met 380 lo- pies gewen. Johan Pitout, krieketorganiseerder, het gesê die senior span sien baie daarna uit om op Donderdag 19 Augustus teen die Warries te speel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button