Local sportSport

Kwaggas kies nuwe president

Eddie Gower, bekende sakeman van Bela-Bela, is as die Kwagga-rugbyklub van Bela-Bela se nuwe klubpresident verkies.

Gower is as president aangewys ná die onverwagse dood van die vorige president, Wynand Booysen.

“As ek my deel kan doen om die klub verder uit te bou op die goeie fondasie wat reeds gelê is, hoekom nie? Ek is ’n rugbyondersteuner by uitstek. Rugby is deel van my wese,” het Gower aan Die Pos gesê.

Gower se rugby-agtergrond het in Mookgophong begin waar hy vir meer as 14 jaar as speler by die Naboom-rugbyklub uitgedraf het. Daarna het hy 12 jaar lank op dié klub se bestuur gedien.

Hy was onder meer klubkaptein vir etlike seisoene en sowat 12 jaar lank sekretaris.

Hy en sy gesin het in 1997 na Bela-Bela verhuis om hul sakeonderneming daar te vestig. Hy was lank net as toeskouer by plaaslike rugbykringe betrokke, maar die gogga het hom weer gebyt en hy is aangestel as spanbestuur van Hoërskool Warmbad se eerstespan.

Gower is ook ’n ywerige gholf- en rolbalspeler.

“Klubrugby-byeenkomste was nog altyd ’n heerlike gesellige kuiergeleentheid vir inwoners van die omgewing. Hoewel sport tans steeds onderhewig is aan streng inper- kings, is die geesdrif van Kwagga-ondersteuners ongelooflik,” het hy gesê.

“Rugby beleef moeilike tye en ek het simpatie met klubs wat weens die verbod op wedstryde sukkel om aan die gang te kom. Dit sal egter gou verander sodra die seisoen in alle erns hervat kan word. Ek het groot waardering vir Drummond Hammond, klubvoorsitter, en die bestuurspan vir wat hulle vermag het om spelers gemotiveer te hou. Hulle het ons plaaslike klub laat groei tydens die inperkingstyd terwyl baie ander klubs agteruit geboer het.”

Gower het gesê hy sal ander rugby-unies en klubs kontak sodra sy amptelike pligte aan hom oorgedra is.

Die Kwaggas se oefensessies het intussen hervat, maar hulle wag nog op toestemming van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) voordat wedstryde hervat kan word.

“Ek sien uit na suksesvolle jare by die Kwaggas. Ons sal uitdagings een op ’n slag hanteer.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button