Local sportSport

Kwaggas hervat normale oefenroetine

Die Kwagga-rugbyklub van Bela-Bela het op Maandag 2 Augustus hul normale oefening hervat.

Klublede het op dié dag spesiaal eer betoon aan hul klubpresident, Wynand Booysen, wie se onlangse dood aan Covid-19-komplikasies ’n groot leemte laat.

Drummond Hammond, klubvoorsitter, het aan Die Pos gesê Booysen se betrokkenheid en verteenwoordiging op provinsiale vlak het baie deure vir die klub geopen. Hulle kon altyd op sy lojaliteit en ondersteuning staatmaak.

“Ons was regtig bederf met Wynand se ervare rugbyagtergrond — van die Blou Bulle-rugby tot by die rugby-unies waar hy op die bestuur gedien het.”

“Die klub is tans in die proses om ’n nuwe klubpresident te verkies. Ons sal intussen op die bestaande klubstruktuur staatmaak en benoemings oorweeg,” het Hammond gesê.

Die verkiesing sal na verwagting eers in November plaasvind wanneer die klub sy jaarlikse algemene vergadering hou. Die prysuitdeling vir spelers word ook tydens hierdie geleentheid gehou.

Hammond het gesê die nuwe klubpresident moet iemand wees wat die gemeenskap se belange op die harte dra en wie se “hart soos ’n rugbybal gevorm is”.

Professionele- en amateurklubs het op Maandag 26 Julie die groen lig van die provinsiale klubrugbybestuur se Covid-19-paneel ontvang om oefeninge te hervat. Toeskouers word steeds nie by oefeninge of wedstryde toegelaat nie.

“Ons het 53 geregistreerde spelers waaroor ons baie dankbaar is. “Dit hou positiewe vooruitsigte vir die res van die seisoen in,” het Hammond gesê.

“Die Waterberg-liga is bykans verby, al het ons nog net vier wedstryde gespeel. Ons sien met afwagting uit om in September en Oktober die ligabepalings te hervat. Ons klub het groei getoon ondanks die feit dat rugbyklubs bykans twee jaar lank nie ten volle gefunksioneer het nie weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls.

Klubs wag intussen vir verdere terugvoer oor wanneer wedstryde weer mag afskop.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button