Local sportSport

Thaba se inwoners oefen nou sit-sit-so

Dit is deesdae taamlik moeilik om jouself te motiveer om fiks te bly.

Mense het tydens die streng inperkings in 2020 baie gou die goeie gewoonte van gereelde oefening afgeleer. Baie inwoners werk sedertdien van die huis af en die geldsake knyp maar oral. Met die gimnasiums wat so lank gesluit was, het talle mense nie weer hul lidmaatskap hernu toe die inperkings verslap het nie. Dit het tot gevolg gehad dat Suid-Afrikaners minder aktief is.

Maar daar is ’n eenvoudige oplossing: Electro Muscular Stimulation (EMS) raak al hoe gewilder onder diegene wat ’n gesonde leefstyl wil handhaaf sonder om noodwendig te veel tyd daaraan te bestee of hul spaarvarkies oop te breek om gimnasiumfooie te bekostig.

Neil Campher, hoofafrigter van Body 20-nasionaal, beskryf EMS-oefeninge as die alles-in-een-oplossing vir fiksheid en moedig oud en jonk aan om dié soort oefening te probeer.

“EMS is ’n vorm van spierstimulasie wat pynlose, elektriese impulse gebruik. Vir die doel van kragoefeninge en fiksheid herhaal die ergonomiese EMS-masjiene die reaksie van die sentrale senuweestelsel om elektriese impulse te aktiveer vir vinnige spiersametrekking,” verduidelik hy.

Inwoners van Thabazimbi het ’n oorvloed sportaktiwiteite en die klimaat moedig buitehuise sportaktiwiteite aan.

Die dorp beskik oor ’n goeie rugbyklub of inwoners kan ’n heerlike potjie gholf by die plaaslike klub se goedversorgde baan speel.

Daar is ook jukskei, sokker, pluimbal, netbal, boogskiet en nog vele meer. Die dorp spog ook die afgelope drie jaar met ’n goedtoegeruste EMS-gimnasium.

Kenners meen een sessie van 20 minute met ’n EMS-baadjie aan is gelykstaande aan vier ure se normale oefening, aangesien alle spiergroepe gelyktydig in een sessie gestimuleer word.

“’n Mens dink dalk jy leef gesond as jy hier en daar ’n dieet volg of elke nou en dan oefen, maar jy verval net so maklik in ongesonde gewoontes. Juis daarom is oefeninge soos hierdie ’n baie maklike alternatief,” sê Zanie Janse van Rensburg, een van Thabazimbi se bekende sportvroue.

EMS is ook ’n baie goeie keuse vir atlete wat herstel ná ’n besering en selfs bejaardes wat graag aktief wil bly.

As jy gewonder het hoe om van daardie ekstra kilogramme ontslae te raak? Hierdie is ’n maklike en gesonde oplossing, sê Thabazimbi-inwoners wat dit al probeer het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button