Local sportSport

Skolesport kry die wind van voor

Skole in die Waterberg het skaars momentum gekry in die wintersportseisoen toe die departement van onderwys op Woensdag 19 Mei ’n stokkie voor alle skolesport gesteek het.

Die departement het in ’n verklaring aangedui dat sportsoorte waar geen kontak tussen die deelnemers plaasvind — en soortgelyke aktiwiteite — mag voortduur.

Geen touskouers word steeds by enige geleenthede toegelaat nie.

Zarius Janse van Rensburg, hoof van Laerskool Koedoeskop.

Die departement het voorts ’n algehele verbod op kontaksport op skolevlak geplaas.

Luidens ’n verklaring deur die departement is ’n skerp styging in Covid-19-gevalle aangemeld ná skoleportgeleenthede gedurende die eerste kwartaal in Gauteng. Die departement is van mening dat hierdie geleenthede die verspreiding van die Covid-19-virus kan vererger en het daarom kontaksportaktiwiteite stopgesit.

Colin Campbell, hoof van Hoërskool Frikkie Meyer.

Verskeie skole in Die Pos se lesersgebied het die afgelope tyd hul deure vir etlike dae as voorsorgmaatreël gesluit nadat personeel en leerders positief vir die virus getoets is. Van dié skole het intussen hul normale skoolprogram hervat, maar moet steeds voldoen aan die departement se beroep om buitemuurse aktiwiteite te staak.

“Ons het dadelik alle netbal- en rugbyoefeninge, asook wedstryde, gestaak. Daar is geen oefeninge of wedstryde nie, en ons het selfs ons revue-oefeninge stopgesit,” het Liezl Grobler, waarnemende onderhoof van Laerskool Warmbad, by navraag gesê.

“Die enigste aktiwiteit wat voortgaan, is ons Engelse redenaars. Die seisoen vir ons ander niekontaksportsoorte het nog nie aangebreek nie. Ons moet maar wag en sien hoe die pandemie die program beïnvloed.” Paul Liddle, hoof van Hoërskool Warmbad, het gesê die opskorting is hartseer.

“Ek moet die departement, as my werkgewer, se versoek respekteer en gehoorsaam, maar ek is nie ten gunste van so ’n drastiese stap nie. Dit sal ’n negatiewe uitwerking op ons leerders se sosiale ontwikkeling hê. Die departement moes dit in ag geneem het voordat hulle dié besluit geneem het.”

Liddle het dit as kortsigtig bestempel om skole só drasties in te perk terwyl kroeë, restaurante en inkopiesentrums normaalweg sake doen en daar “geen werklike polisiëring plaasvind om die pandemie elders te beheer nie”. Hy het gesê die skool berus hom nogtans by die besluit, al “maak dit nie sin nie”.

Koos Venter, hoof van Laerskool Thabazimbi.

Laerskool Nylstroom is ook diep getref deur die skielike inperking. Die skool se vriendskaplike rugby- en netbalwedstryde, asook netbalproewe, was bykans afgehandel. Die provinsiale rugbyproewe is voorlopig gekanselleer en selfs die skool se kooroefening is tydelik gestaak omdat dit nie moontlik is om die vereiste 1,5 meter sosiale afstand te handhaaf nie.

Roelf Vorster, skoolhoof, het aan Die Pos gesê:

“Dit is jammer dat rugby en netbal opgeskort is, want spelers kon in 2020 ook nie genoeg blootstelling kry nie. Ons hoop dat die regulasies verslap sal word sodat die hokkieseisoen aanstaande kwartaal kan voortgaan.” Hy het gesê die skool het egter begrip vir die redes waarom kontaksport nie tans kan voortgaan nie. “Ons wil ons leerders ten alle koste beskerm en hul welstand is ons eerste prioriteit.” Zarius Janse van Rensburg, hoof van Laerskool Koedoeskop, het gesê die trane het vlak gelê by leerders en hul afrigters nadat die afkondiging gedoen is.”

Volgens hom besef onderwysers opnuut wat die waarde van sport in die ontwikkeling van kinders se menswees is.

Paul Liddle, hoof van Hoërskool Warmbad.

“Nie die wen nie, maar die kameraadskap, dissipline, liggaamlike- en geestelike ontwikkeling. Ons neem kennis van die gevare van die virus en méér van ons kan al eerstehands getuig van verliese op talle terreine, maar die onsekerheid van wanneer die mat weer onder ons voete uitgeruk gaan word, is net so nadelig.”

Colin Campbell, hoof van Hoërskool Frikkie Meyer, het gesê dit is altyd hartseer as ’n mens se planne nie uitwerk soos jy graag wou nie, maar die leerders en personeel besef dat hierdie omstandighede tydelik is.

“’n Mens moet maar altyd fokus op die groter prentjie en op dié stadium is dit belangriker vir ons om te sorg dat ons en ons kinders veilig deur hierdie pandemie kom. Die skool wil graag deel van die oplossing wees en nie deel van die probleem nie, daarom aanvaar ons die veranderinge — al is dit hóé hartseer — met ’n oop gemoed.”

Koos Venter, hoof van Laerskool Thabazimbi, het gesê hy en die personeellede is saam met die leerders en ouers uiters teleurgesteld dat wintersport tot verdere kennisgewing afgestel is, maar hulle berus daarby.

“’n Mens kan maar net hoop dat die sport binnekort weer kan aangaan, maar tot dan hoop ons net dat almal gesond bly. Ek dink almal besef dat sportgeleenthede en soortgelyke aktiwi- teite ’n hoërisiko inhou vir die verspreiding van Covid-19 en daarom moet ons ons bes probeer om almal veilig te hou. Sport is altyd ’n goeie uitlaatklep vir kinders en noudat dit weg is, wil ons die kinders aanmoedig om moed te hou en die beste te maak van die res van die skooljaar.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button