Local sportSport

Ratse klein Mika se netbaldroom word waar

Streng inperkingsmaatreëls verlede jaar, en ook vanjaar, het duisende skoolleerders se jarelange sportdrome in die slag laat bly.

Een van die leerders wat haar nié laat onderkry het nie, is Mika Frohlich van Laerskool Thabazimbi, wat onlangs gekies is om deel te wees van vanjaar se o.12 Limpopo-netbalspan.

Vir Mika en haar ouers was die pad tot provinsiale sukses baie stresvol, maar toe sy op Donderdag 18 Maart op Hoërskool Pietersburg se netbalbaan stap en die eerste bal ontvang en afstuur, kon die keurders al sien sy is gefokus op ’n plek in die provinsiale span.

“Dit was ’n baie senutergende tyd, want ouers is ingevolge die Covid-19-veiligheidsmaatreëls nie toegelaat om leerders te ondersteun nie. Ons het op ’n afstand gestaan en net af en toe geloer wat op die baan gebeur. Ons kon geen kommentaar hoor nie en eers teen die einde, toe sy opgestaan het uit die groep, het ons besef sy is gekies vir die span,” het Mika se ma, Chantelle, gesê.

Mika het in gr. 1 vir die eerste keer aan mininetbal begin deelneem by haar alma mater, Laerskool Thabazimbi, en sedertdien het sy elke jaar haar plek volgestaan as ’n sleutelspeler.

“Met mininetbal moet die meisies in twee posisies speel. Sy het as doel en verdediger gespeel,” vertel haar ma en dit is ook in dié posisies waar Mika uitgeblink het tydens die Limpopo-proewe.

Vir Mika is die sleutel tot sukses doodeenvoudig: ’n mens moet hard werk.

“Ek het maar net aangehou oefen,” vertel sy toe Die Pos by haar gaan inloer het om te hoor wat haar geheim is.

“Ek het my beste probeer en in myself geglo.”

Met die soet kom daar ongelukkig dikwels ook maar ’n bietjie suur.

Toe die departement van onderwys vroeër vandeesmaand aangekondig het dat wintersport tot verdere kennisgewing gekanselleer is, was Mika baie teleurgesteld.

“Ek voel baie hartseer daaroor. Ek het baie daarna uitgesien om nuwe tegnieke en dinge te leer en maats te maak, maar hopelik kan ons binnekort weer begin oefen.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button