Local sportSport

’n Motorfietsryer om dop te hou

Philip Hobbs (17), gr. 11-leerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, is ’n kranige motorfietsryer wat gereeld stof in sy teenstaanders se oë skop.

Philip het sy staal gewys tydens die GXCC-nasionale wedren in Maart en ’n eerste plek in sy afdeling behaal. Die wedren het oor 150 km op ’n uitdagende roete plaasgevind.

Hy het sy vernuf bevestig toe hy bykans 15 minute voor die ryer in die tweede plek oor die wenstreep gejaag het. Dit was egter net die begin en op Saterdag 8 Mei het hy tweede geëindig in ’n wedren wat in Heidelberg, Gauteng, plaasgevind het.

Hy neem tans in die WOW-klas deel, wat beteken dat hy meeding met ryers van enige ouderdom. Sy groot droom is om die OR1-kampioen in Suid Afrika te word. Philip was 15 toe hy sy eerste motorfiets, ’n Yamaha, gekry het.

“Die gogga het my gebyt en sedertdien is dit my groot liefde. Ek hou ook van ander sportsoorte soos rugby, maar die motorfiets kom altyd eerste,” het hy gesê.

Hy jaag tans op ’n 250cc KTM 4-slagfiets.

“Wat eers net ’n tydverdryf was, het vinnig ’n passie geword en hy leef hierdie talent uit,” het Liesl Hobbs, sy ma, vertel.

Philip wil na skool ’n graad in landbou aan die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) verwerf.

Hy sê sy motorfiets gaan saam Bloemfontein toe, want hy is seker daar sal af en toe ’n wedren wees om aan deel te neem.

Philip word as ’n “Privateer”” beskou en neem deel sonder enige borgskappe. Sy grootouers is sy grootste ondersteuners.

Die volgende wedrenne vind op Saterdag 5 Junie in Middelburg en Saterdag 19 Junie in Ventersdorp plaas.

  • Janes Jansen is nog ’n belowende Hansie-ryer. Hy het ’n derde plek in die OR3-afdeling tydens die wedren in Heidelberg behaal.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button