Local sportSport

Thabazimbi-sport kry nuwe lewe

“Daar is so baie kinders wat daagliks in Thabazimbi rondloop en nie besef hulle het ’n sporttalent nie.”

Só vertel Jan van Graan, president van die nuutgestigte Thabazimbi Sportraad (TSR).

“Dit is ’n saak wat my na aan die hart lê en die dorp moet aandag skenk aan die leemte.”

Wanneer ’n mens verby Thabapark se sportgronde ry, wonder jy dalk hoekom daar dan geen sport beoefen word nie. Waar is die rugby- en sokkerspelers wat daagliks dié gronde gebruik het?

Wat het geword van die krieketklub in Thabazimbi? Watter impak het die uitbreek van die Covid-19-pandemie op sport in ons dorp gehad?

Daar is in April vanjaar geskiedenis gemaak toe die eerste sportraad in die dorp se bestaan gestig is. Dit het die hoop laat opvlam dat sport weer in dié dorp sal herleef.

Verskeie sportinstansies van regoor Thabazimbi, Rooiberg Koedoeskop en Northam het ná jare se beplanning onlangs ’n vergadering belê met die Waterberg Sport Association (WSA) om die voortbestaan van sport in dié dorpe te bespreek.

“Dié streek het nog nooit werklik ’n sportraad of beheerliggaam gehad wat oorkoepelend kon omsien na die ontwikkeling van sport in ons omgewing nie,” verduidelik Van Graan.

“Die WSA het verskeie sportinstansies genooi om deel te neem en hul insette te lewer in die opbou en ontwikkeling van sport in die dorp en ons het dit uiteindelik reggekry om ’n sportraad te stig wat nou by die WSA geaffilieer is.”

“Dit is nie maklik om ’n sportsoort te laat groei en vir jong spelers die geleentheid te gee om hul volle potensiaal te bereik nie. Juis daarom is die WSA daarop gefokus om sport regoor die distrik te koördineer en te ontwikkel,” vertel Van Graan.

“Ons hoofdoel is om sport in die dorp te bevorder. Dink byvoorbeeld aan ’n sportsoort soos jukskei wat nie alombekend is nie. Tog het ons heelwat inwoners in ons dorp wat wel daaraan deelneem,” vertel hy.

“Ons is tans besig om alle belanghebbendes, soos ons verskeie klubs, se insae te kry om uit te vind presies waar ons uitdagings lê. Daar is baie verskillende riglyne en regulasies wat met die stigting van die raad en samewerking met die WSA gepaard gaan. Sodra ons dit uitgeklaar het, kan ons begin om te fokus op die ontwikkeling van ons eie dorp se sport.”

“Daar is soveel geleenthede vir groei in die dorp. Daar is spanne wat nie plek het om te oefen nie en daar is selfs sportsoorte waarvan almal nie eens bewus is in die dorp nie. Ons is baie opgewonde om te sien wat die toekoms vir sport en vir die TSR inhou.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button