Local sportSport

Rugby sonder toeskouers steeds ons voorland

Ondersteuners van plaaslike rugby het met gemengde gevoelens die nuus aangehoor dat toeskouers stééds nie toegelaat word nie.

Spelers is baie opgewonde dat wedstryde weer gespeel mag word, maar hartseer omdat toeskouers nie hul gunstelingspanne tydens wedstryde kan ondersteun nie.

Daar is ’n wedstryd vir Saterdag 8 Mei geskeduleer tussen die Kwagga-span van Bela-Bela en die manne van Amandelbult-klub van Thabazimbi.

Dit sal die eerste klubrugbywedstryd wees sedert Maart 2020. Die Kwaggas het tydens die Waterbergfees-toernooi, wat voor die nasionale Covid-19-inperking in 2020 ingetree het, die Marble Hall-rugbyklub getroef.

Die ander wedstryde in dié toernooi is egter afgelas toe die vlak 5-inperkings ingetree het.

Die Kwagga-rugbyklub se lede sê daarom tong in die kies dat hulle sedert Maart 2020 onoorwonne is. Drummond Hammond, Kwaggaklub-voorsitter, het gesê geen toeskouer sal op die pawiljoen, in die parkeerarea of om die veld toegelaat word nie.

Die Limpopo Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) het laat weet dat geen uitsondering op dié reël toegelaat word nie. Spelers sal onderhewig wees aan die BBRU- en Boksmart-toernooi reëls en moet geregistreer wees op die Wononwon-sportregistrasieplatform.

Alle spelers moet streng aan die Covid-19-maatreëls voldoen. Verder sal daar op die dag gereelde kommunikasie tussen die wedstrydbestuurder en die skeidsregters wees wat moet toesien dat Covid-19-maatreëls gehoorsaam word.

Indien van die reëls oortree word, kan die wedstryd afgelas word.

“Dit sal ’n gewone, vriendskaplike rugbywedstryd wees. Daar sal geen pryse ná die wedstryd uitgedeel word nie,” het Hammond gesê.

“Ons is baie opgewonde dat wedstryde kan hervat al sal dit vreemd wees om geen toeskouers te sien nie.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button