Local sportSport

Olimpiese swemdroom wink vir ‘Valie’

Waterbergers is baie trots op die Paralimpiese swemmer Hendrik van der Merwe (31) wat tydens vanjaar se Suid-Afrikaanse swemkampioenskap vir die Paralimpiese Spele gekwalifiseer het.

Hy neem aan die 100 m borsslag in die SB-kategorie deel. Hierdie kategorie is vir mans wat die volle gebruik van hul arms, hande en bolyf het, maar geen funksie in die beenspiere het nie.

Die Pos het met Van der Merwe, ’n boorling van die Waterberg en deesdae ’n Pretorianer, gesels. Sy ouers het ’n plaas tussen Modimolle en Vaalwater.

Hy was van gr. 4-7 ’n leerder van Laerskool Vaalwater en het sy hoërskoolloopbaan aan die Universiteit van Pretoria se High Performance Centre (HPC) voltooi.

“Daar is nog net een kwalifiserende Paralimpiese-swemkompetisie in Mei oor waarna die finale Suid-Afrikaanse span einde Junie aangekondig word,” het hy vertel.

Volgens Van der Merwe is daar plek vir drie mans in die span.

“Tot dusver is dit nog net ek en Christian Sadie wat gekwalifiseer het. Dit sal vir my ’n groot eer wees om my land by die Paralimpiese Spele te verteenwoordig.

Die spele vind voorlopig van 24 Augustus tot 5 September in Tokio, Japan, plaas. Van der Merwe neem sedert 16-jarige ouderdom aan internasionale swemkompetisies deel. Hy kén teleurstellings en dit was vir hom swaar om in 2008, 2012 en 2016 uit die Suid-Afrikaanse Paralimpiese-span gelaat te word.

“Hoewel ek telkens kwalifiserende tye geswem het, is ek nie ingesluit by die toerspanne nie. Ek het daarom besluit om in 2016 op te hou om professioneel te swem sodat ek kon fokus op my loopbaan in swemafrigting wat ek reeds in 2012 begin het.”

“Maar as die kompetisiegogga ’n mens eers gebyt het, is dit baie moeilik om die adrenalien en opwinding te vergeet,” vertel hy.

Hy het in 2018 weer professioneel begin swem en in 2019 aan die wêreldswemkompetisie in Glasgow, Skotland, deelgeneem — die vyfde keer dat hy aan ’n wêreldkampioenskap deelgeneem het.

Fiksheid, ’n gesonde leefstyl- en eetgewoontes is heel bo-aan sy prioriteitslys.

Sy sakeonderneming, “Coach Legs”, bied pasgemaakte oefen- en eetplanne en hy bemark ook gesondheidsaanvullings en bied swemafrigting aan. Hy glo psigiese gesondheid is net so belangrik as fisieke fiksheid.

“As ’n mens geleidelik klein verbeterings aanbring, kan jy mettertyd groot suksesse behaal. Bietjie-bietjie maak baie!” Van der Merwe is met Spina Bifida gebore.

Dit is ’n genetiese toestand wat die rugsenuwee aantas en hy het geen gebruik van sy bene nie.

Hy het op 14-jarige ouderdom begin swem en vinnig tot by die Suid-Afrikaanse kampioenskap gevorder. Dit was juis tydens dié kompetisie waar sy spanmaats hom die bynaam “Legs” gegee het wat nou “Coach Legs” vir sy swemleerders geword het.

Swemafrigting is vir hom ’n groot bron van vreugde:

“Ek is gek daaroor om swemmers te wys hulle is tot soveel meer in staat as wat hulle gedink het. Wat ons in die swembad leer, kan ons ook daagliks in ons lewens toepas: deursettingsvermoë, harde werk, fokus op doelwitte en oplossings vir probleme soek.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button