Local sportSport

Fietsrit van ‘brug na berg’ goed op dreef

Waterbergers kan vanjaar deelneem aan die Brug na Berg-fietsrit wat op Saterdag 1 Mei plaasvind.

Deelnemers beoog om die ongeveer 2 200 km tussen Beitbrug (Musina) en Tafelberg (Kaapstad) binne 12 uur af te lê.

Om dit moontlik te maak, word die roete in 22 skofte tussen die onderskeie dorpe en stede opgedeel.

Die Pos het met Jakkie van der Colff, ’n kranige langafstandfietsryer en stigter van die Brug na Berg-pretrit, gesels. Volgens hom het die idee posgevat tydens ’n vorige fietstoer. Die eerste Brug na Berg-pretrit is in 2017 gehou.

“Ek wou hê alle fietsryers — ongeag ouderdom of vaardigheid — moet deelneem en só fiestry as gesinsaktiwiteit bevorder. Ons wil ook bewustheid by motorryers kweek om fietsryers se veiligheid op die paaie in ag te neem,” het hy gesê.

Van der Colff, wat vanjaar sy 80ste verjaardag vier, sal op die dag van die wedloop deurtentyd in ’n radio-ateljee wees waar hy met die onderskeie groepe sal gesels.

“Al die skofte sal die oggend vroeg afskop sodat almal gelyktydig deelneem,” het Van der Colff gesê.

Carel en Doret Taljaard organiseer sedert 2017 die groep fietsryers wat die skof tussen Mokopane en Bela-Bela aflê.

Die groep sal om 06:00 by die Hulp en Hoop-gemeenskapskerk in HF Verwoerdstraat, Mokopane, wegspring. Die roete van bykans 110 km volg die R101-deurpad tot in Mookgophong waarna ryers met grondpaaie verby die Nylsvley-natuurreservaat, Kranskop en Modimolle trap tot waar dit by die ATKV Klein-Kariba-vakansieoord net buite Bela-Bela eindig.

Die skof tussen Bela-Bela en Pretoria word gereël deur ’n fietsry-groep van Pretoria.

Belangstellendes wat wil inskakel by die Mokopane tot Bela-Bela-skof kan vir Doret Taljaard bel by tel. 083 321 1633 vir meer inligting.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button