Local sportSport

’n Besige naweek op die Thabazimbi-sportkalender

Verskeie sportbyeenkomste het sedert verlede jaar se streng Covid 19-inperkingsmaatreëls in die slag gebly.

Die streng inperkings is aan die begin van vanjaar so effens verlig en talle sportklubs regoor Thabazimbi het stadig maar seker weer begin terugkeer na “normaal”.

Op skolevlak doen leerders veral nou fiksheidsoefeninge vir die komende wintersportseisoen met rugbyspelers wat hul middae op die veld deurbring en netbaldogters wat voorbereidings tref en vaardighede oefen.

Mathilda Broekhuizen is een van die Thabazimbi-boogklub se beste spelers en neem die komende naweek aan die kampioenskap deel.

Sportgeesdriftiges kan die komende naweek nader staan, want dit gaan waarskynlik ’n besige naweek op die sportkalender wees.

Die Thabazimbi-boogskietklub neem op Saterdag 24 April en Sondag 25 April aan die nasionale boogskietkampioenskap deel.

Aangesien die Covid-19-wetgewing nog nie amptelik toestemming verleen vir byeenkomste en wedstryde om voort te gaan nie, vind dié kampioenskap virtueel plaas met klubs wat regoor Suid-Afrika by hul plaaslike klubhuise meeding. Hierdie kampioenskap is ook goeie voorbereiding vir die komende Limpopo-Suid veldskiet-kompetisie wat op Saterdag 8 en Sondag 9 Mei op eie bodem aangebied word.

Cobus Snyman is ’n gedugte gholfspeler van Thabazimbi.

Die Thabazimbi-gholfklub het ook ’n besige naweek met ’n gholfdag ten bate van Hoërskool Frikkie Meyer se matriekafskeid. Die kompetisie vind plaas op Saterdag 24 April om 08:00.

Spelers kan meer inligting verkry of inskryf deur vir Roné Coetzee te bel by tel. 083 235 3798 of stuur ’n e-pos aan koshuis@hfm.co.za. Inskrywingsfooie beloop R700 per span.

Daar sal ook ’n halfweghuis-ete en aandete na afloop van die toernooi aangebied word. Thabazimbi-rugbyklub se spelers is die afgelope twee maande druk besig om voor te berei vir die komende seisoen.

Die inperkingsmaatreëls het tot onlangs nie toegelaat dat spelers al aan tegniek kon oefen nie, maar volgens afrigter James Engelbrecht het dit die span ’n goeie geleentheid gegee om hul fiksheid op te skerp.

Die span kon intussen gewone oefening hervat en wag op die groen lig om wedstryde te speel. Die klub en sy spelers het egter nog baie voorbereiding om te tref en het ook heelwat onkostes vir die komende seisoen.

Om betrokke te raak by die span en moontlik borgskappe te gee, bel vir James Engelbrecht by tel. 072 750 2521 of vir Nico Greef by tel. 082 366 7079.

Smeer aan die sonbrandroom en pak die koelboks en ondersteun dié naweek jou plaaslike sportspan.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button