Local sportSport

Hou gerus dié mannetjie dop

Die jong gholfsensasie van Mookgophong, Reuben van der Wal (12), het stof in ’n paar van die ouer manne se oë geskop nadat hy in Maart vanjaar die Naboomspruit-gholfklub se maandbeker gewen het.

Klublede speel maandeliks teen mekaar en die wenner se naam word op die maandbeker trofee gegraveer.

Reuben se ouers, Riaan en Yvette van der Wal, het in Engeland gewerk en Reuben is in 2008 daar gebore. Riaan het onderwys gegee en Yvette het die bekende gholfspeler, Ernie Els, se kinders privaat onderrig.

Toe Reuben ses maande oud was, het die gesin saam met Els en sy gesin na Jupiter in die staat Florida in Amerika verhuis.

“Oom Ernie, en veral oom Louis Oosthuizen, wat ook ’n bekende gholfspeler is, en my pa het my geleer gholf speel,” vertel hy opgewonde.

Die gesin het tien jaar in Amerika gewoon waar hul dogter, Monet (9), gebore is. Hulle het in 2018 weer na Suid Afrika verhuis. Riaan is ’n oudinwoner van Mookgophong.

Hulle bly langs die derde putjie van die Naboomspruit-gholfbaan en Reuben oefen elke aand op dié putjie om sy gholf te verbeter.

Hy het al verskeie pryse gewen en selfs tydens die Million Dollar Gholftoernooi in 2019 die beste gevaar in die “putt en chip”-kompetisie in sy ouderdomsgroep. R

euben het ook vanjaar die junior klubkampioenskap in Mookgopong gewen.

“Reuben het al ’n paar keer lekker vleispakke gewen en gesorg dat ons vrieskas vol bly. Hy het verlede maand R700 by die klub gewen met die “chip en putt”-kompetisie,” het Yvette trots vertel.

Hy het al by verskeie gholfbane gespeel, maar sy droom is om by die Masters-baan in Augasta, Georgië, in die VSA te speel.

Hy het ook bekende gholfspelers soos Lee Westwood en Charl Swartzel ontmoet.

Reuben is ’n gr. 7-leerder in Laerskool Eugène N. Marais in die dorp en is ook sy skool se onderhoofseun. Monet is in gr. 4 in dieselfde skool.

Hy is ook ’n kranige jagter en het al ’n blouwildebees geskiet.

“Ek wil eendag soos my pa ’n onderwyser wees en gholf speel en ek wil ’n plaas ook hê,” het Reuben blinkoog gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button