Local sportSport

Marcus maak naam in Gauteng

Marcus de Aguiar, ’n talentvolle jong krieketspeler van Thabazimbi, maak deesdae naam in Gauteng-skolekrieket.

Soos talle ander plaaslike seuns lê Marcus se wortels diep gesetel op die sportgronde van Laerskool Thabazimbi waar hy as jong krieketspeler, en later ook onderhoofseun van sport, baie wedstryde gespeel het. Hy het van jongs af gewys dat plattelandse kinders kan kers vashou by enige speler in die stad.

Marcus is ’n veelsydige krieketspeler, maar dit is met sy boulwerk wat hy die paaltjies gereeld laat kantel.

Dié kinders gedy al jare lank onder die bekwame afrigting en leiding van verskeie afrigters soos Michael Karremaker, Kerneels Viljoen, Theron Brand en Kadaff Harmse.

“Ek het van vroeg af al geweet ek wil net krieket speel,” vertel Marcus. “Dit is nie iets wat ek regtig kan verduidelik nie, maar krieket het net eenvoudig vir my ‘gekliek’”.

Met ongelooflike passie vir die sport en sy deursettingsvermoë het hy vir hom ’n beurs losgeslaan by een van die topsportskole in Pretoria waar hy vandag nog sy tuisdorp se naam hoog hou wanneer hy op die veld draf.

Marcus se pa het in 2019 gesterf, maar ten spyte van die ongelooflike hartseer het hy nooit sy fokus verloor nie.

“Ek wil baie graag provinsiale krieket begin speel. Ek oefen dus nou hard totdat die Covid-19-maatreëls ons weer toelaat om wedstryde te speel,” vertel hy.

Marcus is verlede jaar by sy skool aange- wys as die vinnigste bouler in sy ouderdomsgroep.

Ondanks sy lang lys prestasies, hou hy sy voete stewig op die aarde en sy oë op die (wen) paaltjies.

“Ek is baie dankbaar vir my talent, maar ’n mens moet altyd onthou talent bring jou tot op ’n punt en daarna is dit harde werk.”

Marcus weet wat hy wil hê en hy werk daagliks daaraan om sy drome waar te maak.

“’n Mens moet gemotiveerd bly, altyd jou beste gee en nooit fokus verloor nie. Toegewyde, harde werk is al hoe ’n mens dit gaan regkry om jou doelwit te bereik.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button