Local sportSport

Egpaar het ‘petrol’ in hul are

Motorfietsgeesdriftiges het hulle die afgelope naweek gate uit geniet tydens die National off-road Motorcycle Championships se tweede ronde wat op Saterdag 27 Maart by Middelfontein, tussen Modimolle en Mookgophong, gehou is.

Die Pos was ook daar om deel te hê in die opwinding en die oorverdowende enjingeraas op elke moontlike toonhoogte.

Jaco en Judith Krige van Bronkhorstspruit was die enigste egpaar wat saam aan die Gauteng X-cross Country Club (GXCC) se klubwedren vir vierwielmotorfietse deelgeneem het. Hulle het met Die Pos gesels oor hul passie vir motorfietse.

“Ons is nou vier jaar getroud en neem die afgelope drie jaar aan vierwielkompetisies deel. Hierdie was vir ons een van die moeilikste en gevaarlikste bane, maar ons het die uitdaging geniet,” het hulle aan Die Pos gesê.

Judith (41) het deelgeneem in die vroue-afdeling en Jaco (42) in die meestersafdeling.

“Jaco se vierwielmotorfiets het twee keer tydens die ren gerol en hy kon nie die ronde voltooi nie,” het Judith vertel.

“Ek self het ook een keer amper beheer verloor, maar kon darem die ronde voltooi.”

Saam met die vierwielmotorfietse besit die egpaar ook elkeen ’n padmotorfiets (superbike) waarmee hulle gereeld oor naweke aan fondsinsamelingsprojekte of plesierritte deelneem.

Judith het drie kinders uit ’n vorige huwelik en het verlede jaar ouma geword van ’n babaseuntjie wat nou sewe maande oud is. Sy is dankbaar dat nie een van haar kinders kranige motorfietsryers is nie.

Judith het aan Die Pos gesê enige vorm van motorsport is ’n duur stokperdjie en die meeste jaers probeer om borgskappe te werf.

Vierwielmotorfietse kan tweedehands gekoop word. Die pryse vir ’n goeie fiets is ongeveer R50 000 teenoor ’n nuwe een wat in die omgewing van R80 000 kos.

Die nodige veiligheidstoerusting en uitrustings is ook baie duur en dikwels pasgemaak. So ’n uitrusting kan tussen R15 000 tot R20 000 kos.

Daarmee saam moet die vierwielmotorfiets gereeld gediens word en bande kos ook ’n fortuin, maar as daar petrol in jou are is, kan jy nie die versoeking ignoreer nie, sê die egpaar.

  • Die volledige berig oor die wenners van die tweede ronde van die National Off-road Motorcycle Championships volg sodra die amptelike uitslae bekend gemaak word.

Gebruik die PixzAR-toep om met jou selfoon na die kort video te kyk van die pret by die wegspring van een van die items. Dit is eenvoudig – skandeer die foto in die gedrukte uitgawe van Die Pos en Voila!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button