Local sportSport

Thabazimbi-skuts se pyle trek reguit

Lede van die Thabazimbi-boogklub het die afgelope naweek gasheer gespeel vir 67 skuts van regoor die land tydens die 2021 South African National Indoor and Field Assosia- tion (Sanifaa) se nasionale veldkompetisie.

Chris Welgemoed, klubsekretaris, het sy dank uitgepreek teenoor almal wat gehelp het om dié jaar se kampioenskap ’n wegholsukses te maak.

“Boogskiet is oor die algemeen ’n individuele sport. Hoewel ons teen mekaar meeding, is die grootste uitdaging om jou eie rekords te verbeter en jouself as skut te verbeter,” het Welgemoed verduidelik.

Dag 1 (Saterdag 20 Maart) se veldronde van die kampioenskap was reeds ’n naelbytstryd met deelnemers wat naby aan mekaar was.

Met die veldrondes word die skuts uitgedaag om teikens op gelyke afstande, wat wissel van 20 tot 80 tree, te skiet.

Die jagronde (ongelyke afstande tussen 11 en 70 tree) het die Sondagoggend plaasgevind en die kampioenskap is afgesluit met die diereronde waar skuts hul visier rig op tweedimensionele afdrukke van diere oor afstande van tussen 13 en 60 tree.

“Vanjaar se kompetisie was regtig aangenaam en ons was gelukkig dat die weer saamgespeel het om te sorg vir ’n uiters opwindende kampioenskap,” het Welgemoed gesê.

Die Thabazimbi-boogklub hou tans hul interne kampioenskap.

Vir meer inligting oor die doen en late van die klub bel gerus vir Chris Welgemoed by tel. 082 921 1218.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button