Local sportSport

Swemklubs nou onder een sambreel

Swemafrigters van Bela-Bela het besluit om hul kragte voortaan saam te snoer en almal onder een sambreel te funksioneer.

Ouers en belangstellendes is tydens ’n algemene vergadering op Woensdag 17 Maart by Hoërskool Warmbad meegedeel dat die klubs van Van Reenen Cloete, Lee-Anne Smit en Veonna Burne saamgevoeg word en voortaan as een klub, die Warmbad-swemklub, bekend sal staan.

Die samewerking was nodig om aan meer swemmers die geleentheid te bied om spesialisafrigting te ontvang en aan ouers ’n werkbare sakeplan vir die volhoubaarheid van die swemklub te bied. Cloete het gesê die klub hou beter voordele in vir jong en volwasse swemmers.

Elke individu se vordering kan gemoniteer word en swemmers het gelyke kanse om mededingend te swem.

Die instandhouding van die swembad is baie duur en daarom het die skoolbestuur ook aan die gemeenskap ’n versoek gerig om betrokke te raak by die infrastruktuur se onderhoud sodat hierdie bate ook vir volgende geslagte tot voordeel kan wees.

’n Nuwe bestuurspan is aangewys om die swemklub uit te bou en te bevorder. Hulle is Thinus van der Heever, Lucas Jansen van Niewenhuizen, Cecilia Groothof, Wynand Booysen (jnr), Karolien Stein, Michelle Pieterse en die afrigters Van Reenen Cloete, Veona Burne en Lee-Anne Smit.

Van der Heever het gesê Hoërskool- en Laerskool Warmbad het hulself reeds verbind tot die sukses van die swemklub en sal gereeld bydraes lewer om die infrastruktuur te verbeter en in stand te hou.

Die bestuurspan is verantwoordelik vir bemarking, fondsinsameling en toegangsbeheer by die swembad. Die swembad moet ook bemark word as ideale plek vir groot skole wat oefenkampe en afrigtingskursusse wil aanbied. Die koshuis kan huisvesting verskaf vir groot groepe besoekers.

Dit is belangrik dat die gemeenskap moet deel hê in die uitbou van ons dorp se geriewe, het Van der Heever gesê.

Cloete het gesê dit word deur nasionale swemliggame vereis dat afrigters jaarliks bekwaamheidskursusse voltooi, anders word hulle nie erken as professionele afrigters nie.

Swemmers van vlak 1 tot seniorsfase sal hier afrigting ontvang. Die afrigters sal ook hul swemmers voorberei vir die kompetisies en verskillende kampioenskappe.

Vir navrae kan mense vir Cloete bel by tel. 082 044 5614, Smit by tel. 078 485 of vir Burne by tel. 076 231 4832/ 079 898 7885.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button