Local sportSport

Tweeling kan die stokke swaai

“Ons vroue skop partykeer stof in die manne se oë,” vertel Tiffany tong-in-die-kies, “maar dit is nie vir ons belangrik om teen mans mee te ding nie.”

Die gholfwêreld is jare lank — soos baie ander sportsoorte — deur mans oorheers, maar twee talentvolle jong vroue van Thabazimbi maak deesdae amok op die gholfbane.

Die veelsydige identiese tweeling Stephanie en Tiffany Robbertse het op skool al uitgeblink in verskeie sportsoorte. Hulle is vandeesmaand onderskeidelik as kampioen en naaswenner in die Thabazimbi-gholfkampioenskap gekroon.

Die tweeling het as klein meisietjies hul pa na die gholfbaan vergesel en weliswaar langs die baan grootgeword.

Die afgelope drie jaar fokus dié dinamiese-duo ernstig op hul gholfloopbane.

“Ons het die laaste paar jaar meer aandag aan tegniek gegee en ons ernstig daartoe verbind om elke dag te oefen en ons spelpeil te verbeter,” het Tiffany verduidelik.

“Daar is nie baie geleenthede vir vroue-gholfspelers nie, maar ons oefen baie hard en speel oral waar ons die geleentheid kry.”

Dié twee is — soos baie ander tweelinge — onafskeidbaar.

“Ons doen alles saam en trek tot soms dieselfde aan,” het Stephanie gelag. Selfs wanneer hulle die geleentheid het om spanmaats te kies, kies hulle mekaar. “Ek dink ons is gelukkig dat ons saam kan speel, want ons motiveer mekaar om beter te speel. Eendag wen ek en dan wen my suster,” het Tiffany bygevoeg. “Ons raak nie sommer jaloers nie. Ek dink eintlik ons daag mekaar uit en motiveer mekaar meer as enigiets anders.”

En hoe kry hulle dit reg om spreekwoordelik hul “man” op die gholfbaan te staan? wou Die Pos weet.

“Ons werk hard en geniet elke oomblik.” Volgens dié twee geld hierdie beginsel trouens vir al die vrouespelers by die Thabazimbi-gholfklub. “Ons vroue skop partykeer stof in die manne se oë,” vertel Tiffany tong-in-die-kies, “maar dit is nie vir ons belangrik om teen mans mee te ding nie.”

“Jong meisies moet leer geslag is nie ’n struikelblok nie. Al wat saak maak, is dat jy jouself moet motiveer en jou beste spel lewer,” verduidelik hulle.

Lesers van Die Pos kan gerus dié twee se loopbane dophou.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button