Local sportSport

Blou Bulle kuier eersdaags in Bela-Bela

Die Blou Bulle-rugbyspan besoek eersdaags die Waterberg-omgewing om aan lojale ondersteuners en belangstellendes hul twee nuwe trofeë — die Super Rugby Unlocked-trofee en die Carling Currie-beker — te kom wys.

Die afgelope jaar en ook die nuwe seisoen het vir rugbybase hoofbrekens besorg.

Die Covid-19-pandemie se invloed het ondersteuners, spelers en organiseerders droëbek gelaat.

Hoewel rugby ’n knou gekry het, het die spelers gewys dat dié sportsoort nog lank nie iets van die verlede is nie. Die Blou Bulle het die Pumas in November 2020 gewys wie is baas in die Super Rugby Unlocked-toernooi.

Met die Carling Currie-bekertoernooi wat in Februarie ten einde geloop het, was dit weer die Blou Bulle wat op Loftus Versfeld koning gekraai het oor die Sharks.

Die Bulle se besoek aan Limpopo sal na verwagting op Dinsdag 23 Maart in Bela-Bela begin.

Drummond Hammond, voorsitter van die Kwagga-rugbyklub in Bela-Bela, het aan Die Pos gesê die Bulle sal na verwagting vyf plaaslike rugbyklubs in Bela-Bela, Lephalale, Vaalwater, Polokwane en Mokopane besoek om te spog met hul oorwinnings.

Hulle het reeds hul segetog afgeskop met besoeke aan rugbyklubs in Pretoria.

“Die voorlopige beplanning is dat die span vir ongeveer een uur by elke klub sal deurbring. Hulle sal by die Kwagga-rugbyklub begin wat vir Hoërskool Warmbad, ons klub en die gemeenskap baie goeie blootstelling sal gee.”

Die Kwagga-rugbyklubbestuur hou gereelde samesprekings met die Blou Bulle-bestuur oor beplanning en afrigting. Hulle ondersteun die Kwaggas se projek om jong spelers te behou deur vir hul werkgeleenthede in die dorp te beding.

Hammond het gesê die volledige Blou Bul-span, hul afrigters en ondersteuningspersoneel sal na verwagting om 10:00 by Hoërskool Warmbad opdaag waar leerders en die gemeenskap hul sporthelde in lewende lywe kan ontmoet.

“Ons tree binne die Covid-19-riglyne op en alle riglyne sal streng gevolg word. Kontak met die spelers sal beperk word.”

Verdere reëlings oor die dag sal later bekendgemaak word, het Hammond gesê.

Met die verslapping van die Covid-19-maatreëls het plaaslike rugbyklubs weer begin oefen en die spangees loop hoog vir die ligawedstryde wat hopelik later vanjaar gespeel kan word.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button