Local sportSport

Bela-Bela spog dalk eersdaags met sportsentrum

Die Covid-19-pandemie het sportklubs ’n gevoelige hou toegedien, maar sportgeesdriftiges in Bela-Bela kan dalk eersdaags weer glimlag.

Klubs mag steeds ingevolge wetgewing slegs binne sekere riglyne oefen, maar geen wedstryde of kompetisies mag plaasvind nie.

Dit het daartoe gelei dat talle sportlui ongemotiveerd geraak het en klubs die gevaar begin loop het om hul deure te sluit omdat hulle nie meer geriewe of toerusting kan bekostig nie.

Dit was juis dié tameletjie wat ’n paar geesdriftige sportliefhebbers van Bela-Bela aan die dink gesit het.

Marnus Luüs, Bosveld-Mall-sentrumbestuurder, het aan Die Pos gesê die Accelerate-groep, wat die eienaars van die winkelsentrum is, wil sport in die gemeenskap bevorder en het daarom ’n perseel beskikbaar gestel waar verskeie klubs hul sportsoorte gratis kan beoefen.

Die onderskeie klubs sal egter self verantwoordelik wees vir die basiese dienste wat hul gebruik.

“Die plan is om ’n perseel in die sentrum beskikbaar te stel waar sportklubs kan oefen sonder dat hulle huur betaal. Die sportsentrum sal as ’n nie-winsgewende organisasie (NWO) bedryf word en die sentrum sal geen geldelike voordeel daaruit trek nie,” het hy gesê.

Onderhandelings sal tussen die bestuur en die onderskeie klubs plaasvind oor wat hul behoeftes is en watter bydraes hulle tot die basiese dienste kan maak, het Luüs gesê.

“Dit is tot almal se voordeel dat die inkopiesentrum sentraal geleë is. Die perseel wat geoormerk is vir die projek, kan met gemak 50 persone akkommodeer en wanneer die Covid-19-regulasies verslap word, is daar genoeg ruimte om uit te brei.”

Die NWO-fondse sal in die toekoms aangewend word om klubs wat weens die pandemie sukkel, te ondersteun deur toerusting te voorsien wat tot opkomende jong sportlui in die gemeenskap se voordeel sal wees, het Luüs gesê.

Die kriteria van die fonds moet nog bepaal word. Intussen het die bestuur van die Bosveld-Mall en lede van die Suid-Afrikaanse Japan Shotokan Karate Assosiasie (SAJKA) reeds onderhandel om ’n karate-dojo daar tot stand te bring.

SAJKA het tans lede in Bela-Bela, Modimolle en Mookgophong en word afgerig deur senseis Paul van Vuuren (vierde Dan), Ben Nieuwoudt (vierde Dan) en Laurette Reynders (tweede Dan).

Hul hulpafrigters is Paul (jnr.) van Vuuren (tweede Dan), Patrys Grobler (tweede Dan) en Keydie O’Callaghan (eerste Dan). Dié dojo is bekend vir hul suksesvolle aanbiedings van toernooie en graderings en kan in die toekoms vir interprovinsiale byeenkomste gebruik word.

Vir navrae in verband met die beoogde sportsentrum kan mense vir Luüs bel by tel. 066 292 6806.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button