Local sportSport

Hoofartikel: Al die veld nie meer so vrolik

Dit is die jaar 2020 en Liefling, jy weet, soms voel ’n mens verslae en mismoedig al het jy net koerant gelees of nuus geluister.

Al die veld is nie meer so vrolik nie. Al die voëltjies, krieke en springkane sing en spring nie meer so baldadig nie.

In Modimolle stroom die rioolwater die strate af — deur woonerwe, voor sakeondernemings tot in die riviere.

 

Foto: freepik

 

Sannie kan nie meer, soos in die bekende volksliedjie, sommer net gaan water haal daar onder by die dam nie.

Lank gelede was dit die kinders wat nie in die water moes mors nie, want die oumense wou dit drink. Nou is dit — hoe ironies? — die oumense se skuld dat die kinders se water bemors is.

By die hofgebou buite Bela-Bela dreunsing Vingerkraal se mense dat dié wat boos is agter tralies bly en dié wat weerloos is, beskerm word. Geen borgtog! pleit hulle. Geen genade. Geen berou. Siembamba, mamma se kindjie, draai sy nek om, gooi hom in die sloot. Trap op sy kop dan is hy dood.

Help ons tog en sien ons nood raak, vra dié wat die donker grond van die Springbokvlakte bewerk. Uit die blou van onse hemel uit die diepte van ons see. Waar sal ons hulp vandaan kom?

Op sosiale media skree wit en swart (en veral rooi) op mekaar dat die skuim om hul monde saampak. Vat jou goed en trek, Ferreira. Pak op, pak op, sit jou goedjies op jou kop en sê maar so long, Skipskop. Nee, skree ’n ander groep: Die land is jou land, die land is my land; van die ou Limpopo tot die Kaapse sandstrand. Want hierdie is ’n land van kleure en klank. Dis ’n land van oorvloed en dank, sê hulle.

Maar saans as die son sak, trek ons die gordyne dig, laat die honde inkom, sluit die deure, sit die alarms aan en kyk waar die selfone lê. Jou hart het ’n kleine venster geword, maar niemand sien daar deur.

Afrika, o Afrika, die trane die rol oor jou, Bokkie. Jou vroue en kinders (en mans!) word wreed vermoor, winkels en historiese plekke word geplunder en afgebrand. Die dikkes word nog dikker en die skrales vergaan van ellende.

Thula thula, thula baba, thula sana.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button