Local sportSport

Plaaslike karatekas presteer

Nico en Charneé von Stade van die Waterberg Karate Academy in Bela-Bela is op Vrydag 6 November na nuwe vlakke bevorder toe Charneé haar tweede dan (Nidan) en Nico sy vierde dan (Yondan) in Pretoria behaal het.

Dit was vir hulle ’n groot eer om erkenning te kry vir jare se harde werk en toewyding.

“My karate-opleiding is iets wat my lewe verander het. Dit het nie net my verhoudings met mense verbeter nie, maar my fisiek en geestelik sterker gemaak en my in my loopbaan as polisieman al uit talle gevaarlike situasies gered. As dit nie vir my karate-ondervinding was nie, sou ek nie vandag hier gewees het nie,” het Nico gesê.

“Karate is nie ’n sport wat kinders aggressief maak nie. Dit leer hulle vaardighede aan om gevaarlike situasie sonder geweld te ontlont. As die situasie verander en hulle word bedreig, het hulle die vaardigheid om hulself te beskerm en verdedig.”

Dit neem ongeveer ses jaar van toegewyde oefening en gereelde blootstelling aan kompetisies om deur al die gordels te vorder tot by die swart gordel. Kandidate word gereeld aan graderings met internasionale kriteria blootgestel.

“Deelnemers wat hul swart gordels wil verwerf, word oor twee dae aan strawwe kompetisie blootgestel en nie net op fisieke vaardighede beoordeel nie, maar ook in die hantering van konfliksituasies en selfdissipline. Hulle word onderwerp aan verskillende uitdagings en konflik­situasies.”

“Sodra ’n deelnemer sy of haar derde dan bereik, moet hulle ’n tesis oor ’n voorgeskrewe onderwerp inhandig. Dit verg ure se navorsing.”

Nico is van mening dat sy kinders baie gebaat het by hul deelname aan dié sportsoort. Sy seun Nico (jnr.) het reeds sy eerste dan bereik.

Hy sê kinders wat geboelie word, vind baie baat by karate. Dit verbeter hul selfbeeld en hulle kan hul man staan sonder om in gevegte betrokke te raak.

Hy sê talle skoolberaders beveel karateklasse aan om lae selfbeeld te verbeter. Jong karatekas se konsentrasie verbeter en dan word hul akademiese prestasies ook positief beïnvloed.

“Ek beleef elke leerder se reis saam met hulle — of hulle sukkel op skool, geboelie word of sukkel met aggressie. Ek help om hulle te vorm en leer hulle om goeie besluite te neem. Dit is ’n groot voorreg.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button