Local sportSport

Hansie-atlete neem aan internasionale virtuele atletiekbyeenkoms deel

Ses atlete van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het op Saterdag 29 Augustus aan ’n internasionale virtuele atletiekbyeenkoms vir skoolleerders deelgeneem.

Veldatlete van Hoërskole Menlopark en Garsfontein in Pretoria het ook op die Hansies se bane aan die byeenkoms deelgeneem.

Die kompetisie is deur Hoërskool Menlopark (Virtuele Skole Atletiek) gereël en deur Backtrack aangebied. Daar was ongeveer 1 000 atlete van regoor Suid-Afrika en Namibië wat deelgeneem het.

Die Hansies se Cara Louw en Marcus van der Walt (o.14) moes teen atlete in die o.15-kategorie deelneem.

Ook Janco Van der Walt en Yvette Swan (o.16) moes in ’n hoër ouderdom deelneem. Pieta Van Rooyen het in die o.19-afdeling deelgeneem en Macayla Treurnich in die o.17-afdeling. Volgens Lebu Van Heerden, sporthoof van Hoërskool Hans Strijdom, het die atlete elektronies vir elke item ingeskryf.

Atlete het daarna ’n nommer ontvang. Elke baanatleet het net een poging gekry en alleen gehardloop. Die tye is geneem en die deelname is op video vasgelê. Deelnemers van die velditems het elk ses pogings gekry. Die tye en afstande is elektronies ingelees en die finale uitslae is ná twee dae ontvang.

Die baanitems was beperk tot 200 m, 400 m, 800 m en 1500 en die velditems was skyfwerp, spiesgooi, gewigstoot en verspring.

“Ons is baie trots op hierdie atlete wat internasionaal hul staal gewys het,” het Van Heerden, gesê.

Die uitslae toon dat ons atlete hard gewerk het tydens die grendeltydperk. Yvette het ’n vyfde plek in skyfwerp en vierde plek in gewigstoot behaal.

Janco van der Walt was 12de in die 800 m, Macayla Treurnich tweede in die 800 m, Cara Louw tweede in die spiesgooi en Marcus van der Walt het ’n vyfde plek in die 1500 m behaal.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button