Oppas vir dié oupas op die gholfbaan!
Dit is vroeg op ’n koue wintersoggend en die gholfbaan se wintersgras lê nat en wag dat gholfspelers spore daardeur trap.
![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/134/2020/07/16a-1.jpg)
Die groep mans kom een-een aan en groet mekaar opgewek. Die kwinkslae vlieg heen en weer. Vroeg op Dinsdag- en Donderdagoggende behoort die baan aan die Nylstroom-seniors wat jare reeds weekliks bymekaar kom vir ’n potjie gholf. Sowat 30 spelers behoort aan die groep en hul ouderdomme wissel van vroeë sestigs tot 95 jaar oud.
“Die gereelde gholfspeel is ’n tonikum vir ons almal. Ons speel nie om kampioene te wees nie, maar om die spel te geniet. Dit is ’n afwisseling van die daaglikse roetine en die oefening in die buitelug is goed vir ons,” sê Koos Smit wat in die Kokanje-aftreeoord woon. Hy lag. “My vrou is ook bly as ek gaan gholf speel!”
Dolf Britz, ’n fikse 95 jaar oud, is die groep se oudste speler. Hy was sy lewe lank lief daarvoor om aan sport deel te neem, veral rugby. Hy woon in Tuin Tuiste in Bela-Bela en speel al 40 jaar gholf. Voor hy in die Bosveld kom aftree het, was hy ’n diamantslyper in Alberton.
“Ek is baie dankbaar dat ek op hierdie ouderdom nog sterk genoeg is om gholf te speel. Ek is ook dankbaar teenoor hierdie groep manne wat nog bereid is om saam met my te speel!”
Die spelers se voorgeesyfers wissel van 8 tot 36.
“Soms speel die een met die 8-voorgee saam met een van dié met ’n 36-voorgee. Dit pla ons glad nie,” het Smit gesê.
Hoewel die meeste spelers al jare lank gholf speel, is daar van hulle wat die sport eers onlangs aangepak het.
“Dit is ’n uiteenlopende groep mense wat van oral af gekom het om hier af te tree en ’n wye verskeidenheid beroepe beoefen het. Dit sorg vir interessante geselskap en daar heers lekker kameraderie onder ons. ’n Klomp van die spelers kamp gereeld saam. As een van ons siek is, is die ondersteuning wat ons van mekaar af kry baie opbeurend.”