Local sportSport

Hansies kook by atletiekbyeenkoms

Hoërskool Hans Strijdom het op Vrydag 7 Februarie hul eerste tuisatletiekbyeenkoms vir die seisoen op hul sportvelde in Mookgophong aangebied.

Dit was ’n middag- en aandskouspel wat deur Rinus De Jager, hoof van die Hansies, as “uit die boonste rakke” beskryf is.

Die skole wat aan dié vriendskaplike byeenkoms deelgeneem het, het van sover as Ermelo gekom. Altesaam ses skole het deelgeneem en gesorg vir opwindende atletiek. Die ander skole was Hoërskool Dirk Postma, Hoërskool Akasia, Hoërskool Wonderboom en Hoërskool Pretoria-Noord.

Die Hansies het hul staal gewys en tweede geëindig in die stryd. Hoërskool Ermelo het met die louere weggestap.

Verskeie nuwe rekords is opgestel. Mackayla Treunich het alle verwagtinge oortref en nuwe rekords opgestel in die 800 m, 1500 m en 3000 m vir meisies o.17.

Nege van die nuwe rekords is deur Hansie-atlete verbeter. Hulle het 17 eerste plekke verwerf en die senior seuns het die kompetisie gewen.

“Daar is nog items waar ons kan verbeter voor die interhoër, maar ons werk daaraan en sien uit na ’n heerlike byeenkoms by die Nylies op Saterdag 29 Februarie,” het De Jager aan Die Pos gesê.

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die beserings van ’n paar Hansie-atlete en vertrou dat hulle gou sal herstel en weer volstoom kan oefen en deelneem.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button